LPO: Lewende hawe is nie gewasse
’n Namibiese boer plant nie diere nie. Hy maak hulle groot deur droogtes, siektes, skuld en dekades se belegging wat geen balansstaat ten volle kan weergee nie. Om dit met ’n gewas te vergelyk, verminder wat boerdery in hierdie land beteken.
Onlangs het nuusartikels in Namibië se koerante verskyn waarin aangevoer word dat beeste soos gewasse behandel moet word en dat dieselfde beleidsraamwerk wat gebruik word om groente-invoere te beperk, nou ook op beesuitvoere toegepas moet word.
Die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) verwerp hierdie vergelyking. Nie as ’n politieke standpunt nie, maar as ’n feitlike een.
Die LPO gee hul mening in die nuusbrief: “Gewasse en beeste is nie dieselfde nie en beleid kan nie voorgee dat hulle is nie.
Die beginsel agte r die Namibiese Agronomiese Raad (NAB) se invoerbeperkings is eenvoudig: Wanneer Namibië nie genoeg kan produseer om sy eie mense te voed nie, moet invoere die tekort aanvul. Die beleid beskerm ’n binnelandse mark. Namibië is ’n netto invoerder van graan en groente.
Dit beteken die land verbruik meer as wat dit produseer en is dus afhanklik van buitelandse aanbod om die gaping te vul. Invoerbeperkings beskerm plaaslike produsente teen onregverdige buitelandse mededinging.
Rooivleis werk presies andersom. Namibië produseer meer vleis as wat die binnelandse mark kan opneem. Die res moet uitgevoer word. Namibië is ’n netto uitvoerder van vleis en afhanklik van buitelandse markte.
Dit is die kernverskil wat die argument "hanteer beeste soos gewasse" mis. Die NAB-model is ontwerp om invoere te beheer sodat plaaslike produsente ’n gewaarborgde mark het. Lewendehaweboere het reeds ’n mark buite die land. Beheer op ’n uitvoermark het nie dieselfde effek op ’n invoermark nie. Dit doen die teenoorgestelde: Dit sluit die voordeur, van binne af.
Wanneer beleid hierdie verskil ignoreer, betaal boere die prys. Ons het dit al voorheen in Namibië gesien met ons eie kleinveesektor.
Ons was al hier en dit het die kleinveesektor op sy knieë gebring.
In 2004 het die regering die Kleinveebemarkingskema ingestel. Die bedoeling was dieselfde as wat nou vir beeste voorgestel word: Om lewende uitvoere te beperk en diere deur plaaslike abattoirs te dwing.
Die resultaat was die teenoorgestelde van wat beoog is. Boere het nie aan die skema voldoen nie, maar hulle het op die mark gereageer, soos boere altyd moet doen. Hulle het oorgeskakel van skape na beeste en wildboerdery. Skaapproduksie het in duie gestort. Een van die laaste uitvoerabattoirs moes tydelik sluit, omdat daar nie genoeg diere was nie. ’n Regeringstudie het uiteindelik bevestig wat boere al jare gesê het: Die skema het misluk en is onder moratorium geplaas.
Die LPO het destyds gesê, in woorde wat vandag nog waar is: “Produsente kan nie verantwoordelik gehou word vir die subsidiëring van ander en die finansiering van industrialisering in Namibië nie.”
Daardie les het die kleinveesektor jare se herstel gekos.
Die LPO doen ’n beroep op die regering om dit nie met beeste te herhaal nie en meen die boer dra die risiko. Alleen.
Die boer dra die biologiese risiko van droogte, siekte en vrektes in die kudde. Hy dra die finansiële risiko van produksiekoste wat skerp gestyg het terwyl pryse wisselvallig bly. Hy dra ook die reputasierisiko om aan die streng welsyns-, naspeurbaarheids- en gehaltestandaarde te voldoen wat Namibiese vleis toegang gee tot markte soos die Europese Unie, die Verenigde State van Amerika (VSA), China en Noorweë.
Wanneer die waardeketting slaag, deel almal in die wins. Wanneer dit misluk, dra die boer die verlies.
Elke deelnemer ná die plaashek werk binne ’n stelsel van beskerming, subsidies en institusionele ondersteuning. Die verwerker het infrastruktuurbelegging en marktoegangsooreenkomste. Die abattoir het deurset wanneer skemas diere sy kant toe dwing. Die uitvoerder het sertifiseringsraamwerke gebaseer op Namibië se internasionale reputasie.
Die boer het niks hiervan nie.
Die regering se verantwoordelikheid is om ’n omgewing te skep waar die boer kan floreer. Nie om stelsels te ontwerp wat verwerkers beskerm ten koste van die boer nie.
’n Ware vennootskap het oor jare deure oopgemaak vir Namibiese vleis en dit verdien om gerespekteer te word.
Die LPO wil iets duidelik stel wat besig is om in hierdie debat verlore te raak. Namibië het nie per toeval sy buitengewone posisie in wêreld-vleismarkte bereik nie. Dit is bereik omdat die owerhede en die bedryf oor dekades saam iets opgebou het wat die wêreld vertrou.
Die regering het in NamLITS belê. Die direktoraat veeartsenydienste het die siektevrye status suid van die veeartseny-kordonheining gehandhaaf. Die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming het die tegniese onderhandelinge gevoer wat markte oopgemaak het.
In 2017 het Namibiese beesvleis China bereik. In 2020 die VSA.
Dit is die resultaat van volgehoue samewerking.
Boere het hul deel gedoen. Hulle het hul diere geregistreer, aan vereistes voldoen en hul praktyke aangepas. Hulle het ’n produk gebou wat wêreldwyd vertrou word.
Wat ons vra is eenvoudig: Hou die vennootskap in stand. Handhaaf ’n ope mark. Vertrou die boere.
Waarde in Namibië se vleissektor begin nie by die abattoir nie. Dit begin op die plaas. En daardie vennootskap verdien beter. – LPO/NLU
Prev Post
Goeie mielie-oes op die horison
Next Post
