Na verwagting sal die mielieseisoen opbrengste van sowat 111 447 ton bereik, wat op ’n goeie oes dui wat moontlik die vorige seisoen se produksie met 37% kan oortref.
Ongeveer 23 390 hektaar mielies is landswyd aangeplant, insluitend beide droëland- en besproeiingsgewasse, volgens die Akkerbouprodusente-vereniging wat onlangs hul jaarlikse ledevergadering en inligtingsdag op Summerdown gehou het. Finale syfers sal egter eers ná oestyd bevestig word.
Tydens die die vergadering is ’n positiewe vooruitsig vir die huidige mielieseisoen uitgelig, ondersteun deur gunstige reënvaltoestande in die meeste produksiegebiede.
Reënvalpatrone is as tydig en konsekwent vir die meeste produsente beskryf, wat gunstige groeitoestande bevorder het
. Alhoewel sommige oostelike streke minder reën ontvang het, was toestande oor die algemeen bevorderlik vir gewasontwikkeling, met mielies wat volgens berigte vog op kritieke groeistadia ontvang het.
Wat uitdagings volgens die vereniging betref, bly onkruid in sekere gebiede ’n faktor terwyl minder plaagprobleme aangemeld is.
’n Hoë volume mielies word vanjaar in die mark verwag. Volgens die NAB se bestuurder vir akkerbou-ontwikkeling, Loide Uahengo, kan dit druk op bergingskapasiteit plaas en sal koördinering tussen rolspelers vereis om doeltreffende hantering en verwerking te verseker.
GRONDBONE, SONNEBLOMME
Aanplantings van grondbone in die noordelike streke presteer goed, terwyl sonneblomproduksie beperk bly weens markbeperkings, ten spyte van die waarde daarvan as wisselgewas vir onkruidbeheer.
’n Noemenswaardige ontwikkeling wat bespreek is, is die bekendstelling van mobiele skanderingstegnologie vir blaar- en grondontledings deur die APA.
Hierdie stelsel stel produsente in staat om voedingstekorte in reële tyd te identifiseer en vinniger regstellende stappe te neem, in vergelyking met tradisionele laboratoriumtoetse wat etlike weke kan duur. – NLU