Wie ry weg met die gesogte Toyota-bakkie?

Die veeprodusent van die jaar van die Namibië Landbou-unie (NLU) en Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO) sal op 4 November in Windhoek gekroon word en wegstap met ’n splinternuwe Toyota Hilux 2.4-enkelkajuitbakkie.

Daar was altesaam 18 topgehalte-inskrywings ontvang en drie rondtes beoordeling is afgehandel, waarna agt semifinaliste suksesvol na die finale rondte deurgedring het. In September het ’n span kundiges dié agt veeprodusente se plase besoek om ’n finale deeglike beoordeling te doen om die topdrie-veeprodusente aan te wys.

Aan die einde van die aand sal die finaliste – Hendrik en Priska Botha, Hella en Streicher Coetzee of Diethelm en Katja Metzger – wegry plaas toe met die bakkie van Toyota SA, danksy die toegewyde ondersteuning van Pupkewitz Toyota.

Die jarelange borg, Feedmaster, dra ook by tot die geleentheid met ’n prys vir die wenner, wat hul verbintenis bevestig om uitnemendheid in die bedryf te erken.

Daarbenewens sal Sinclair Services, die LPO en Swavet opwindende pryse vir tweede en derde plekke verskaf, wat verseker dat alle finaliste erken word vir hul harde werk en toewyding.

Tydens die formele gala-aand sal die mediapersoonlikheid van die jaar, agri-vrou van die jaar en gemeenskapsprojek van die jaar ook aangewys word. – francoise@nmh.com.na