Ergste voedselkrisis in dekades

Grondagteruitgang, oorbeweiding, bosindringing en verwoestyning verswak die land se natuurlike hulpbronne, terwyl ekonomiese ongelykhede toegang tot voedsel vir talle Namibiërs beperk.

Volgens beraming sal die aantal mense wat na verwagting tussen Oktober 2024 en Maart 2025 voedselonsekerheid ervaar, waarskynlik met ’n geskatte 9% van 1,15 miljoen tot 1,26 miljoen Namibiërs styg.

Dit was die boodskap van die minister van landbou, water en grondhervorming, Calle Schlettwein tydens Wêreldvoedseldag wat op Gobabis in die Omahekestreek herdenk is.

Dit is een van die streke waar die lewens van mense en diere geëis is weens die impak van klimaatsverandering, insluitend langdurige droogtes en onvoorspelbare reënval, wat Namibië se landbouproduksie en waterbronne bedreig.

“Die belangrikste faktore wat waarskynlik sal bydra tot die voedselonsekerheid is die negatiewe impak van die El Niño-weerverskynsel op gewasproduksie, beperkte veeweiding en waterbeskikbaarheid, die ongunstige ekonomiese en markfaktore, die beperkte beskikbaarheid van landbou-werksgeleenthede en lone, verhoogde migrasie oor grense en ’n ongunstige gesondheids- en voedingsomgewing,” het Schlettwein gesê.

Sy toespraak is deur die goewerneur van die Omahekestreek, Pijoo Nganate, tydens die geleentheid voorgelees.

“Verder bly wanvoeding ’n groot ontwikkelingsprobleem, wat alle streke van die land raak en die mees kwesbare segmente van die bevolking hard tref.

“Kommerwekkende statistieke vereis ons dringende optrede en gesamentlike pogings om hierdie ongewenste situasie te takel.”

Schlettwein het boere bedank vir hul prysenswaardige bydrae tot die bou van ’n volhoubare voedselsekerheidstelsel in die land.

Met vanjaar se tema “Right to Foods for a Better Life and a Better Future – Leaving no one behind”, sê dr. Qingyun Diao, die verteenwoordiger van die Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO ) van die Verenigde Nasies in Namibië, daar moet gestreef word na die doelwit om honger teen 2030 te beëindig.

“Dit is ’n uitdagende taak, maar saam kan ons dit deur ons optrede in realiteit verander. Namibië, en inderdaad die wêreld, maak op ons staat om landbouvoedselstelsels te bou wat meer doeltreffend, inklusief, veerkragtig en volhoubaar is,” het sy gesê.



WFP

Die ergste voedselkrisis in dekades staar miljoene mense oor Suider-Afrika heen in die gesig, Namibië ingesluit, maan die Wêreldvoedselprogram (WFP).

Die agentskap het gewaarsku dat sy vermoë om bystand te lewer deur ’n tekort aan geld gekniehalter kan word. Weens ongekende droogtetoestande het ’n rekordgetal van vyf lande – Namibië, Lesotho, Malawi, Zambië en Zimbabwe – ramptoestande verklaar en vir internasionale humanitêre ondersteuning gevra, het dié agentskap van die Verenigde Nasies gesê.

Angola en Mosambiek loop ook kwaai deur en sowat 21 miljoen kinders is ondervoed.

“Tensy ons bykomende hulpbronne kry, loop miljoene mense die gevaar om die ergste seisoen tussen oeste in dekades sonder bystand te ervaar,” het Tomson Phiri, die WFP se woordvoerder, in Genève, Switserland, gesê.

Die WFP beplan om voedselhulp en, in sommige gevalle, kontant aan meer as 6,5 miljoen mense te bied in die sewe lande wat die swaarste getref word in die tydperk tot die volgende oes in Maart.

Hy het egter gesê dat die WFP slegs sowat ’n vyfde ontvang het van die US$369 miljoen (sowat N$6,5 miljard) wat hy benodig.

“Gewasse en vee het gevrek en kinders is gelukkig om slegs een maaltyd per dag te ontvang. Die situasie is ernstig en dit is duidelik dat daar dringend opgetree moet word,” het Phiri gesê. – francoise@nmh.com.na