Vyf nuwe myne op die horison
Met ten minste vyf nuwe myne wat goud, koper en uraan sal dek, kan Namibië op die voorpunt wees van ‘n mynbougedrewe ekonomiese opswaai. Die myne sal na verwagting binne die volgende drie tot vyf jaar met hul bedrywighede begin. Die Namibiese ekonomiese ontleder Rowland Brown sê baie van die projekte word reeds ten volle deur konstruksie gefinansier wat op ‘n sterk momentum in die sektor dui. Brown het tydens sy verskyning as gas op die Suid-Afrikaanse program Common Sense gesê selfs beskeie verhogings in produksie kan buitensporige impak op die bruto binnelandse produk (BBP) en die regering se inkomste hê. Dit veral in ‘n land met ‘n bevolking van sowat drie miljoen mense, het Brown gesê.
Volgens hom maak Namibië se klein, hanteerbare bevolking die vinnige opskaling van werksgeleenthede moontlik, terwyl die land se sterk reg-, finansiële en vervoerstelsels ‘n omgewing van lae wrywing vir beleggers bied.
Toerisme, het Brown tydens die program gesê, ondersteun groei wat op hulpbronne gebaseer is. Dit trek voordeel uit die land se veiligheid, lae misdaadsyfers en goed-ontwikkelde infrastruktuur, terwyl dit bydra tot beduidende buitelandse invloei van valuta.
Onlangse syfers van die bedryf herbevestig die mynsektor se sentrale rol. Verslae wat tydens die opening van die kamer van mynwese se ekspo in Windhoek voorgelê is, het gewys dat die bedryf ten spyte van beduidende globale struikelblokke en ‘n inkrimping van 1,2% in 2024 steeds die basis van die Namibiese ekonomie is.
Die bedryf het N$52,3 miljard in inkomste genereer, 13,3% tot die bruto binnelandse produk (BBP) bygedra en meer as 2 600 nuwe werksgeleenthede geskep. Dit het die totale direkte indiensneming op 20 843 te staan gebring, 'n toename van 14,6% vanaf die vorige jaar.
Benewens werkskepping het mynmaatskappye in 2024 byna N$24 miljard aan goedere en dienste van Namibiese besighede bestee. Dit verteenwoordig 46,2% van die totale bedryfsinkomste en 62% van die totale verkryging.
Dié vlak van plaaslike verkryging is beskryf as 'n kragtige dryfveer vir inklusiewe ekonomiese groei, wat duisende Namibiese ondernemings oraloor die land ondersteun.
Die sektor het ook N$5,62 miljard tot die staatskas bygedra deur belasting, tantieme en heffings. Dit ten spyte van 'n afname van die vorige jaar as gevolg van swakker inkomste uit diamante.
Dit het N$3 miljard in korporatiewe belasting, N$2,26 miljard in tantieme en N$360 miljoen in uitvoerheffings ingesluit.
Afsonderlik wys ontleders op die dinamika van eienaarskap binne die mynbedryf. Ten minste 11 van die 15 groot maatskappye wat plaaslik in bedryf is, is meer as 80% in buitelandse besit, wat Namibië se voortgesette afhanklikheid van buitelandse beleggings beklemtoon.
Dit kontrasteer met die regering se teikens onder die Sesde Nasionale Ontwikkelingsplan (NDP6, 2025–2030), wat daarop gemik is om Namibiese ekwiteit in mynbou-ondernemings tot 60% teen 2030 te verhoog en die sektor as 'n dryfveer van industrialisering, werkskepping en breër ekonomiese transformasie te posisioneer. - phillipus@nmh-hub.com.na
