‘Ons kan nie proefkonyne wees’
Hoëlui by die Namibië-Rusland Sakeforum. Foto NIPBD

‘Ons kan nie proefkonyne wees’

Namibië kan nie proefkonyne wees vir in situ-loging (ISL) vir uraanmynbou in ons drinkwater nie en geen verantwoordelike leierskap sal dit toelaat nie.

Dit is die reaksie van die Vereniging vir Uraanmynbou in die Stampriet-akwifer (Sauma) nadat Rusland bevestig het hy sal teen 2029 met uraanontginning in Namibië begin. 

“Dit is skokkend!”  

Sauma sê “ons kan nie toelaat dat politieke besluite geneem word en ons enigste waterbron in die Stampriet-waterdraers besoedel word en aan die einde van die dag die hele ekonomie van ons land negatief beïnvloed sal word nie”.

Soortgelyke mynbouprojekte wêreldwyd behoort almal regop te laat sit, benadruk Sauma.

Die vereniging reageer op navrae van Republikein oor die Namibië-Rusland Sakeforum wat die naweek in Windhoek plaasgevind het, asook die interregeringskommissie van handel en ekonomiese samewerking tussen die regerings van Rusland en Namibië. 

“Volgens mediaberigte was die beraad daarop gemik om beter samewerking tussen die twee lande te bewerkstellig op verskeie gebiede wat wissel van gesondheid tot onder meer mynbou,” sê Sauma.

“Die Russiese adjunk- eerste minister, Yury Trutnev, het gesê die projek, waarby Rosatom betrokke sal wees, word so geplaas dat dit as ’n hoeksteen van toekomstige bilaterale samewerking sal dien. 

“Wat ons bekommer is dat daar datums genoem word vir die mynbou om te begin ten spyte van prosesse wat nie afgehandel is nie, wat Rosatom tans verbied om voort te gaan en ook teenstrydig is met duidelike wetgewing wat ons grondwater beskerm.”

Sauma beklemtoon die huidige waterwet verbied die besoedeling van Namibië se grondwater. 

“Dit sluit natuurlik ook waterbewaringsgebiede soos die Stampriet-waterdraers in. 

“Dit wil voorkom of Rosatom en die Russiese regering druk plaas op ons regering om die projek te laat voortgaan.” 

Dít, ondanks “die regering wat hom tot wetenskaplike feite verbind het wat die pad vorentoe kan aanwys”.

– francoise@nmh.com.na