Kersboodskap van die NLU-president
Thinus Pretorius, President van die Namibië Landbou-unie. Foto Jacques du Toit

Kersboodskap van die NLU-president

Wanneer ons terugkyk op 2025, is ons dankbaar vir ’n jaar van vooruitgang, harde werk en baie seëninge.


Die landboubedryf het verskeie uitdagings in die gesig gestaar - van siekte-uitbrekings tot die voortdurende eise van droogtebestuur en die verantwoordelikhede wat op produsente rus - maar ons het standvastig gebly.


Die reën wat groot dele van die land bereik het, het nuwe hoop gebring en ons herinner aan ons afhanklikheid van ons Skepper, maar ook aan die veerkragtigheid van hierdie sektor.


Dit was bemoedigend om te sien hoe die landbougemeenskap regoor Namibië nader aan mekaar gegroei het - produsente, rolspelers en die regering - almal met dieselfde doel: om oplossings te vind en ons toekoms te versterk.


Ons wag steeds vir terugvoer van die arbeidsminister oor die toepassing van die minimum loon vanaf Januarie 2026. Nuwe strukture is gevestig, belangrike gesprekke is gevoer en nuwe momentum is bereik. Daar is beweging, daar is verandering en daar is hoop. Maar Kersfees nooi ons ook uit om ’n rukkie stil te word – om asem te haal en tot rus te kom.


Om die mense rondom ons te koester.


Nie elke jaar sit dieselfde gesigte om die tafel nie, en juis daarom is hierdie tyd kosbaar. Dit herinner ons om weg te stap van syfers, produksieteikens en druk, en terug te keer na dit wat werklik saak maak: Familie, gemeenskap en die verbintenisse wat ons vorm.


Dít is die hart van wie ons is.


Aan elke NLU-lid - waar Kersfees jou ook al vanjaar aantref, op die plaas, by die strand, oorsee of tuis tussen geliefdes - wens ek jou ’n geseënde en vreedsame feestyd toe.


Ry veilig, wees geduldig op die paaie en keer veilig terug huis toe. Mag hierdie tyd jou krag hernu en jou gees herstel.


In 2026 pak ons die werk weer aan met hernude energie en moed.


Dankie vir jou ondersteuning, jou bydrae en jou toewyding aan Namibiese landbou. Dit bly ’n voorreg om hierdie pad saam met jou te stap. Beste wense vir ’n geseënde Kersfees en voorspoedige 2026.


– Thinus Pretorius, NLU-president


– NLU-nuusbrief