Botswana-terugkerendes trek na hervestigingsplase
Honderde Namibiese afstammelinge wat vanaf Botswana na Gam in die Otjozondjupastreek vir hervestiging teruggekeer het, het begin verhuis na hul permanente nedersettings by Otjipaheua.
Dit is deur die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Inge Zaamwani, tydens haar besoek aan Gam einde verlede week bevestig.
Zaamwani het die families opdrag gegee oor die hervestigingsproses: “Elke gesin wat op 20 September deur die regering ontvang is, sowel as diegene wat daarna aangekom het, moet voorberei om na Otjipaheua te verhuis vir die toekenning van landbougrond. Julle samewerking om hierdie proses te begin, sal hoogs waardeer word en moet ideaal gesproke teen die einde van Januarie 2026 voltooi wees.”
Sy het bygevoeg dat “die regering vervoerbystand sal verskaf en alle kwalifiserende individue word aangemoedig om hierdie ondersteuning te gebruik”. Zaamwani het bevestig sommige vragmotors wat aangewys is vir die reis na Otjipaheua het aangekom, terwyl ander op pad is.
Die minister het ook aangekondig dat die ministerie in samewerking met die Kambazembi tradisionele owerheid van hierdie gebied binnekort agt boerdery-eenhede van plase wat deur die regering gekoop is, aan agt families uit die groep sal toeken. Na aanleiding van hierdie aankondiging word verwag dat daardie families binne 30 dae na hul boerdery-eenhede sal trek.”
Zaamwani het die regering se belegging in infrastruktuur by Gam vir die hervestiging uitgelig en gesê: “Tot op hede het die regering meer as N$115 miljoen in hierdie inisiatief belê.” Dit is gebruik vir onder meer die bou van moderne waterinfrastruktuur sowel as ’n veeldoelige kraal.
Die regering se aankoop van ses plase van 23 000 hektaar ter waarde van N$60 miljoen sal in boerdery-eenhede in die streke van Otjozondjupa, Hardap en Omaheke vir kwalifiserende families onderverdeel word.
Sy het die gemeenskap aangespoor om saam te staan tydens die oorgangsfase en beklemtoon: “Die handhawing van samehorigheid sal julle in staat stel om interne en eksterne uitdagings wat tydens julle hervestiging mag ontstaan.”
Zaamwani het inwoners ook herinner aan die regering se verbintenis tot integrasie en gesê: “Die regering is daartoe verbind om julle volle integrasie in die Namibiese samelewing te ondersteun.”
Sy het ’n beroep gedoen op samewerking in die vestiging van produktiewe huishoudings: “Ek vra jul mede-Namibiërs om verenig te bly en met julle regering saam te werk om te verseker dat die hervestigingsproses lei tot die vestiging van produktiewe huishoudings wat uiteindelik sal bydra tot selfstandigheid en veerkragtigheid.”
Die minister het afgesluit met die woorde: “Jul besluit om na jul land terug te keer is beide prysenswaardig en betekenisvol. Jul liefde vir jul land word met respek deur die huidige en toekomstige geslagte geag. Ons dank die Almagtige God wat dit vir ons moontlik gemaak het om vandag hier te wees, byna 15 maande sedert jul aankoms in jul Moederland vanuit Botswana.”
– jacques@nmh-hub.com.na