Bewaringsgebiede afhanklik van operateurs
Die minister van die omgewing, bosbou en toerisme Indileni Daniel sê baie bewaringsgebiede het nie die kapitaal en kundigheid om toegekende konsessies te bestuur nie. Hulle wend hulle dus dikwels tot die ministerie vir hulp om operateurs aan te stel wat die projekte kan finansier, ontwikkel en bedryf.
Daniel het in die parlement geantwoord op 'n vraag deur Rodrick Likando, ’n lid van die Independent Patriots for Change (IPC), oor konsessies.
Volgens die minister is die tenderproses mededingend, en bieërs streef daarna om die hoogste aanbod te maak wat konsessiefooie betref.
“Elke bieër sal ’n ander persentasie van hul netto-omset as konsessiefooi aanbied. Die bedrag wat deur bieërs aangebied word, word dan in die evaluering van voorstelle gebruik. As riglyn gebruik die ministerie egter die streekmaatstaf. Bieërs behoort nie minder as 8% van netto-omset vir die ontwikkeling van 'n lodge en 6% van die netto-omset vir die ontwikkeling van 'n kampeerterrein aan te bied nie,” het sy gesê.
Volgens Daniel belê die operateurs aansienlike kapitaal in die projek. Die operateurs moet hul belegging verhaal en ’n billike opbrengs op die belegging maak voor die verstryking van die konsessieperiode.
Benewens hierdie finansiële verpligting dra operateurs ook by tot die opheffing van bewaringsgebiede deur werkskepping en maatskaplike beleggingsinisiatiewe, wat vir 'n verdere finansiële las sorg.
Met die verstryking van die konsessieperiode word alle infrastruktuur wat ontwikkel is die eiendom van die staat om deur die bewaringsgebied benut te word.
“Soos in die geval van Hobatere Lodge word bewaringsgebiede 100% eienaars van die konsessiebate wanneer die kontrak met die operateur verstryk. Die ministerie het ’n raamwerk vir nakoming opgestel waaraan alle bewaringsgebiede en operateurs onderworpe is. Betalings van konsessiefooie, die aantal werksgeleenthede wat geskep is en alle maatskaplike beleggings word met behulp van die raamwerk gemonitor,” het sy gesê.
Volgens Daniel is en bly die ministerie betrokke by die ondersteuning van bewaringsgebiede.
“Ons moedig die gebiede voortgeset aan om grondkwessies met individuele families vriendskaplik en buite die hof op te los. Die ministerie bly ook eksterne vennote betrek om finansiële ondersteuning te bied. Dit is waarom die gemeenskapsgebaseerde bewaringsfonds van Namibië gestig is. Daar is geen behoefte om ’n toegewyde eenheid te stig nie, want die ministerie het reeds ‘n bestuurseenheid vir die bestuur van gemeenskapsgebaseerde hulpbronne wat nou saam met bewaringsgebiede werk oor kwessies wat hulle raak,” het sy gesê.
Daniel sê geen amptenare laat onwettige nedersettings in bewaringsgebiede toe nie. Volgens haar word dié nedersettings deur lede van bewaringsgebiede of deur gemeenskappe in die gebiede geïnisieer. Die dryfvere sluit volgens die minister die behoefte aan weiveld, nuwe huishoudings, vloede, droogte, en in sommige gevalle, waterpunte in vir wild wat deur die ministerie of bewaringsgebiede voorsien word.
“In sulke omstandighede beweer individuele families dat hulle voorheen in daardie gebiede gewoon het, en skep dit gevolglik konflikte,” het Daniel bygevoeg.
Die minister het beklemtoon konsessies op staatsgrond speel ’n noodsaaklike rol om ander bydraes tot die nasionale ekonomie aan te vul. “Dit “Dit bied toeriste toegang tot gebiede van ons beskermde landskappe wat gewoonlik nie vir die publiek oop is nie, en diversifiseer sodoende die reeks toerisme- en jaggeleenthede wat beskikbaar is. Terselfdertyd genereer konsessies volhoubare inkomste vir die staat uit Namibië se inheemse plant- en wildhulpbronne.”
Met die toegang tot toerisme, jag en bedrywe wat op wilde plant- en dierhulpbronne gebaseer is, dien konsessies as ’n voertuig vir inklusiewe groei. “Die uitbreiding van toegang tot openbare hulpbronne vir die bemagtiging van voorheen benadeelde Namibiërs, met die doel om hierdie deel van ons bevolking op te hef, bly ’n saak van die uiterste belang,” het sy gesê.
“Wanneer die ministerie ’n konsessie vir toerisme aan ’n bewaringsgebied toeken, word ‘n hoofkontrak onderteken. Dit bepaal dat operateurs deur ’n billike, deursigtige en mededingende tenderproses aangestel moet word. ‘n Oop tenderproses word met die aanstelling van operateurs gevolg. Die geleentheid vir ‘n konsessie word wyd in koerante en op verskeie webwerwe geadverteer om maksimum belangstelling te lok,” het Daniel gesê. nikanor@nmh-hub.com.na
