BKS: Invoere uit Botswana beperk
Namibiese owerhede het ’n onmiddellike beperking op die invoer en in-transito beweging van gesplete hoefdiere en verwante produkte uit Botswana geplaas.
Die besluit volg op bevestigde uitbrekings van bek-en-klouseer (BKS) in Botswana, soos deur die Wêrled-dieregesondheid Inligtingstelsel (WAHIS) aangemeld.
Die nuwe veeartsenykundige invoerbeperkings is deur openbare kennisgewing No. 03 van 2026 aangekondig deur die direktoraat veeartsenydienste (DVS) in die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming. Die maatreëls is daarop gemik om die land se veesektor te beskerm teen die invoer van ernstige dieresiektes.
Volgens die kennisgewing geld die beperking vir diere en diereprodukte wat uit verskeie sones in Botswana afkomstig is, insluitend produkte wat vir persoonlike of huishoudelike gebruik bedoel is.
Die maatreël is daarop gemik om die risiko te verminder dat die BKS-virus in Namibië ingebring word, veral in die land se siektevrye kommersiële boerderygebiede.
Die beweging van gesplete hoefdiere en verwante produkte uit ander aangewese sones in Botswana kan steeds toegelaat word, maar slegs onder streng voorwaardes en met ’n geldige veeartsenykundige invoerpermit.
Namibië het die nuwe veeartsenykundige invoerbeperkings ingestel na aanleiding van siekte-uitbrekings wat in ander lande aangemeld is.
Veeartsenykundige owerhede beklemtoon dat hierdie beheermaatreëls deel vorm van Namibië se breër biosekuriteitstrategie om die veesektor te beskerm en die land se gunstige dieregesondheidstatus te handhaaf.
Namibië het ook die invoer en deurvoer van lewende pluimvee, voëls en pluimveeprodukte wat uit die provinsie Buenos Aires in Argentinië afkomstig is, opgeskort in ’n afsonderlike openbare kennisgewing No. 02 van 2026 wat deur die DVS uitgereik is.
Dit volg op ’n aangemelde uitbreking van hoogs patogeniese voëlgriep in daardie streek. Alle voorheen uitgereikte invoerpermitte vir pluimvee en pluimveeprodukte uit die betrokke provinsie is met onmiddellike effek gekanselleer.
ARGENTINIë
Pluimvee wat egter reeds voor 5 Februarie 2026 in water verpak en verseël is, mag steeds Namibië binnekom of deur die land vervoer word.
Owerhede het verder verduidelik dat verwerkte pluimveeprodukte en neweprodukte wat aan die standaarde van die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid voldoen, steeds ingevoer of deur Namibië vervoer mag word, mits dit deur ’n geldige veeartsenykundige invoerpermit vergesel word.
Die DVS sê die maatreëls is voorkomend van aard en vorm deel van voortdurende pogings om Namibië se veesektor te beskerm teen die gevolge van siektes wat grense oorsteek, op ekonomiese asook dieregesondheidsvlak.
Invoerders en belanghebbendes wat verdere verduideliking oor die nuwe maatreëls benodig, word aangeraai om die veeartsenykundige invoerbeheerkantoor by die landbouministerie te kontak. Die owerhede monitor die internasionale dieregesondheidsituasie steeds noukeurig en sal invoervereistes bywerk soos nodig om te verseker dat Namibië se biosekuriteit gehandhaaf bly. – NLU
Next Post
