Rusland bring sy beursie

Meer as 300 Russiese besighede was oor die afgelope naweek by die Windhoek Buitklub Oord teenwoordig by die eerste Namibië-Rusland Sakeforum, wat tot vandag (16 Maart 2026) voort duur, tesame met die elfde sitting van die Namibië-Rusland interregeringskommissie op handel en ekonomiese samewerking.

By die amptelike opening Vrydag, het die adjunk eerste minister van Rusland, Yury Trutnev, gesê die lys van besoekende besighede sluit groot staatsondernemings in soos die energiereus Rosatom, Rostec die industriële tegnologievervaardiger en -uitvoerder, en Uralkali, een van die wêreld se grootste potasprodusente en -uitvoerders, saam met private goudmynmaatskappy Nordgold, en ook VEB.RF, die Russiese staatsbeheerde se buitelandse ekonomiese bank. Volgens Trutnev is VEB.RF gereed om die aantreklike rentekoers van 5% aan gesamentlike projekte met Russiese maatskappye in Afrika aan te bied. “Ek wil onderstreep dat die ontwikkeling van kontakte in hierdie verband nie net 'n goeie basis vir ekonomiese verhoudings nie, maar ook 'n basis vir die vriendskap tussen ons lande en ons regerings,” het hy gesê.

Trutnev het herhaaldelik gesê die vlak van handel tussen Namibië en Rusland wat hy teen US$18,4 miljoen beraam het, nie voldoende is nie. “Ons wil daai syfer verander, vergroot en nuwe resultate bereik,” het hy gesê. Volgens hom is die tendens een van groei en daai verhouding verbeter. “Ek is seker dat ons die moontlikhede vir verdere samewerking in velde soos enerige, hoë tegnologie, mynbou, petrochemicalia, IT, finansies en landbou kan vind,” sê hy.

Vroeër het Namibië se minister van internasionale betrekkinge en handel, Selma Ashipala-Musavyi, bilaterale handelsvlakke met Rusland as bestendig maar relatief beskeie beskryf.

Namibië se uitvoere na Rusland in 2024 het hoofsaaklik bestaan uit visseryprodukte

ter waarde van US$3,68 miljoen, tesame met geselekteerde tuinbouprodukte soos druiwe en dadels, ter waarde van US$1,462 miljoen. Invoere uit Rusland het hoofsaaklik uit strategiese landbou-insette bestaan, insluitend kunsmis en graankosse, hoofsaaklik koring en meslin, wat ongeveer US$13,853 miljoen beloop, het sy uitgebrei. “In 2024 het bilaterale handel hierdie komplementêre patroon weerspieël, met Namibië wat ongeveer US$39,5 miljoen aan goedere uit Rusland ingevoer het terwyl hulle ongeveer US$13 miljoen uitgevoer het,” sê sy.

“Die goeie nuus is dat hierdie skewe handelsverhouding betekenisvolle geleenthede bied om samewerking en handel te verdiep, veral deur Namibië se uitvoermandjie uit te brei, waardetoevoeging in sleutelsektore te verbeter en groter beleggingsvennootskappe te bevorder,” sê Ashipala-Musavyi.

Die handelsminister het spesifiek landbou en agro-verwerking uitgelig, met geleenthede in kunsmisvoorsiening, landbou tegnologie, stoorinfrastruktuur, groen skemas, voerkraalontwikkeling en voedselverwerkingsbedrywe wat volgens haar plaaslike voedselsekerheid kan versterk. Mynbou en mineraal waardetoevoeging, vervaardiging en logistiek, onderwys, IT en vernuwing is ook deur haar uitgelig.

“Ons is vol vertroue dat hierdie Namibië-Rusland Sakeforum sal bydra tot die vestiging van nuwe gesamentlike ondernemings, groter internasionale blootstelling vir Namibiese ondernemings, en die identifisering van konkrete beleggingsprojekte wat in lyn is met Namibië se nasionale ontwikkelingsdoelwitte,” het sy gesë, en het die Russiese besigheidsmense verseker dat; “In Namibië word politieke stabiliteit, respek vir die oppergesag van die reg, beskerming van jou beleggings en onbelemmerde vryheid om winste te repatrieer, gewaarborg.”

Kyk hier na 'n onderhoud wat Trutnev aan die kantlyn van die geleentheid gegee het: q.my.na/1V4U