Namib Mills-staking nader dag 50

Die staking by Namib Mills duur tot dag 48 vandag. Deelnemende lede van die Namibiese Revolusionêre Vervoerunie (Naretu) sal môre vir 50 dae toegang tot Namibië se grootste graanverwerker en stapelvoedselvervaardiger geweier word, nadat die maatskappy sy hekke in Januarie vir hulle gesluit het, 'n dag voordat die staking begin het.

Die gewilde Bakpro brood word reeds nie meer afgelewer nie, terwyl ander populere stapelvoedselprodukte soos Top Score mieliemeel en Pasta Polana in sekere grotes moeiliker is om in die hande te kry, volgens Namib Mills se hoof van menslike hulpbronne, Amorey Pote.

Intussen was Naretu se leier Petersen Kambinda Maandag agter tralies na hy by verwante aanranding betrokke was. “Die man het agt mense daar probeer insmokkel en toe ek hom konfronteer het hy my uitgelok. Ek het hom klien, klein aangeraak, toe hardloop hy polisie toe en maak ‘n saak,” sê Kambinda. Die vakbondleier was egter teen Dinsdag weer op vrye-voet na hy ‘n boete betaal het en aangesien sy slagoffer ook glo nie ‘n doktersondersoek vir beseerings laat doen het nie.

Pote erken dat die onderneming onder die staking lei. “Ons begin die impak voel en kliente in Suid Afrika mag ontrek. As dit gebeur kyk ons na groot afleggings,” sê sy.

Nadat die vakbond en Namib Mills op 30 January met arbied en justisie minister Wise Immanuel vergader het, was ‘n verbeterde aanbod deur die onderneming gemaak, sê sy. Aanvanklik het Namib Mills geen terugbetaling en geen bonus aangebied nie. Tenspyte die aanbod om vyf maande terugbetaling en die helfde van die bonus van laas jaar vir die stakers te betaal is die vakbond steeds nie tervrede nie, sê sy. “Hulle soek nog meer en wil nog iets op die tafel sit. Ons hak nog vas op die bonus,” sê Pote. “Dit gaan oor wie die langste asem het,” het sy bygevoeg.

Kambinda betwis egter dat die bonus eens deel van onderhandeling moet wees, aangesien dit vir werk wat werknemers reeds laas jaar gedoen het moes wees. Werkers wat nie deelneem aan die staking nie, het reeds die helfde van hul bonus in Desember en die res in Januarie ontvang, brei hy uit. In ag van terugbetaling is die vakbond bereid om ses maande te aanvaar, maar volgens hom is die groot probleem die arrogansie van Namib Mills se bestuur. “Ons sal nie toelaat dat Namib Mills ons afknou nie,” dring hy aan.

Verder het Namib Mills volgens hom reeds op 6 Februarie ‘n brief gestuur om onderhandelinge vir afdankings teen 9 Februarie te begin. Hulle het egter nooit gebel om die afspraak vas te maak nie, sê hy. “Hulle bluf. Daai mense hou van geld. Ons is gereed om toegewings te maak, maar hulle sê as ons ooreenkom sal hulle disiplienere aksie teen van ons lede instel. Hoe moet ons so iets aanvaar,” sê hy.

“Ons is nie op ‘Animal Farm’ nie, ons is ‘n land van wette,” sê Kambinda.

Gevra oor Namib Mills se aantuigings dat van die stakende werkers hardhandig teenoor nie-stakers opgetree het, die disiplinere stappe daarvoor nodig is, het hy geantwoord: “Hoeveel sake daarvan is by die polisie geregistreer? Die antwoord nie niks.”

Kambinda sê, “Namib Mills het van ons sterkste soldate uitgeken en wil hulle disiplineer om ‘n boodskap te stuur sodat anders nie week in industriele aksie sal deelneem nie. Nou wat die uitbuiting tot ‘n einde kom, soek hulle wraak.”

In ag van afleggings sê die vakbond leier, “as hulle dink die salarisonderhandelinge was moeilik, laat hulle wag vir afleggings onderhandelinge. Dit is nie iets wat hulle volgens die wet eensydig kan doen nie. Hulle doen tans minimale produksie met gebruik van APS-werkers. Hulle sal afdankings met daai huurwerkers moet begin,” dring hy aan.