Veeartsenybeamptes is tans op besoek aan plase langs die Oranjerivier om veeinspeksies uit te voer en bloedmonsters van vee neem.
Betroubare bronne langs die Oranjerivier het aan Republikein bevestig dat spanne van vier elk veeartsenybeamptes van direktoraat veeartsenydienste (DVS) in die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming sedert verlede ontplooi is langs die Oranjerivier.
Dit volg nadat die staatsveearts van Karasburg, dr. Arnold de Klerk, op 10 Februarie 2026 ’n amptelike brief van hul besoek aan kommunale boere langs die suidelike grens gestuur het nadat BKS aan die aangrensende Suid-Afrikaanse provinsie in die Noord-Kaap bevestig is.
"Dit is 'n proses van drie weke waar DVS-spanne verskeie gebiede langs die Oranje sal besoek," het 'n bron gesê.
Intussen is ’n ondersteuningsfonds is deur vier boere-unies gestig in reaksie op die beduidende bedreiging wat bek-en-klouseer (BKS) vir Namibië se veesektor en nasionale ekonomie inhou.
Om nasionale paraatheid te versterk, poog die inisiatief om ’n gesamentlike N$50 miljoen uit die private sektor te bekom deur korporatiewe borgskappe, vennootskappe en bydraes in natura soos logistiek, tegnologie en toerusting.
“Namibië se veesektor neem proaktiewe stappe om die land se landbou-ekonomie te beskerm deur die instelling van die BKS Ondersteuningsfonds – ’n gekoördineerde privatesektor-inisiatief wat daarop gemik is om siektevoorkoming en reaksievermoë te versterk,” lui die jongste weeklikse nuusbrief van die Namibië Landbou-unie (NLU).
Volgens die NLU sal hierdie ondersteuning Namibië se vermoë verbeter om vinnig en doeltreffend op moontlike uitbrekings te reageer en sodoende marktoegang en ekonomiese stabiliteit te beskerm.
“’n Enkele bevestigde BKS-geval in Namibië se BKS-vrye sone sou, ingevolge nasionale noodplanne, ’n onmiddellike staking van alle vee- en vleisuitvoere veroorsaak, wat ernstige ekonomiese ontwrigting regdeur die waardeketting kan meebring, insluitend vir boere, verwerkers, vervoerders, handelaars en landelike gemeenskappe.”
Die NLU sê die onlangse uitbrekings in die streek beklemtoon verder die dringendheid van paraatheid, met bevestigde gevalle in Suid-Afrika se Noord-Kaap en Botswana se BKS-vrye sone.
Die veesektor – met ’n waarde van ongeveer N$15 miljard – loop ’n beduidende risiko, met die regering wat aangedui het dat sowat N$1,5 miljard benodig word om die bedryf teen sulke bedreigings te beskerm.
Die BKS Ondersteuningsfonds word gelei deur Namibië se vier nasionale landbou-unies – die Namibië Landbou-unie (NLU), Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU), die Namibiese Ontluikende Kommersiële Boerevereniging (Necfu) en die Boere-unie vir Voorheen Benadeelde Kommersiële Boere (PDCFU).
Die inisiatief dien as ’n gestruktureerde ondersteuningsmeganisme wat die voorkoming- en reaksievermoë van DVS en die Lewendehawe- en Lewendehaweprodukteraad van Namibië (LLPBN) versterk.
“Die fonds dien as ’n skakel tussen die private sektor en DVS, wat gekoördineerde optrede, fondsinsameling en die deel van inligting moontlik maak om risiko te verminder en Namibië se vee-waardekettings te beskerm.”
Die BKS Ondersteuningsfonds fokus op verskeie kernpunte:
• Finansiering van voorkomings- en reaksie-aktiwiteite ter ondersteuning van die veeartsenyowerheid se siektebeheermaatreëls.
• Ondersteuning van voorkomingsinisiatiewe, insluitend bewusmakingsprogramme, opleiding en maatreëls vir risikovermindering
• Versterking van noodgereedheid, insluitend noodplanvoorbereiding en ondersteuning vir vroeë inperking.
• Koördinering van risiko-inligting en kommunikasie tussen DVS en belanghebbendes in die private sektor.
“Deur hierdie pogings beoog die fonds om vinnige reaksievermoë, verbeterde koördinering en gereedheid vir finansiering te verseker – kritieke elemente in die voorkoming en bestuur van siekte-uitbrekings.”
Die NLU sê die inisiatief funksioneer binne ’n deursigtige bestuursraamwerk, met duidelike rolverdeling tussen tegniese leierskap en finansiële ondersteuning.
“DVS en LLPBN bly verantwoordelik vir tegniese besluite en die bestuur van die uitbreking, terwyl die BKS Ondersteuningsfonds finansiële en operasionele ondersteuning bied waar nodig.”
Toesig word verskaf deur ’n onafhanklike bestuurskomitee, ondersteun deur toegewyde verslagdoening en onafhanklike ouditering.
“Deur gekoördineerde bedryfsondersteuning te mobiliseer, neem die BKS Ondersteuningsfonds ’n proaktiewe stap om Namibië se veesektor te beskerm, uitvoermarkte te bewaar en die langtermyn-volhoubaarheid van die landbou-ekonomie te verseker,” sê die NLU.
Vir meer inligting of om betrokke te raak, kontak dr. Ingrid Henckert-Weissnar by info@fmdsupportfund.com / livestock@nau.com.na of besoek www.fmdsupportfund.com.
– francoise@nmh.com.na
– Bykomende bron NLU