‘BKS is die Covid van die lewendehawesektor’

In die opbou van die vrees wat tans in Suid-Afrika broei rondom die bek-en-klouseer (BKS)-situasie – en met daardie bedreiging ongemaklik naby aan ons grense – het ek onlangs ’n vraag ontvang oor ’n “nano-silwer”-produk waarna mense begin gryp as ’n laaste hoop, want alles anders faal. 

Dit is ’n verstaanbare vraag. Maar dit is ook presies in sulke oomblikke waar bemarking van biologiese feite geskei moet word. Virusse word nie “doodgemaak” soos bakterieë nie BKS word veroorsaak deur ’n virus – ’n klein stukkie genetika wat in ’n lagie proteïen toegedraai is. 

Virusse “sterf” nie soos bakterieë nie; hulle word onaktief gem

aak of verhoed om aan selle te heg en te vermenigvuldig. Dit is belangrik om dit te verstaan, want dit bepaal wat ’n produk realisties kan verrig, en as wetenskaplik verkeerde bewerings gemaak word, is dit kommerwekkend. 

Deur die onderliggende wetenskaplike konsepte goed te verstaan, plaas ons die mag terug in ons boere se hande om ingeligte besluite te neem en feite van wanpersepsies te onderskei. 

Met die bewusmaking van wetenskaplike feite kan ons maklik bepaal of dít wat ’n produk beweer om te kan verrig, werklik moontlik is. 

 

SILWERVERBINGS 

Silwerverbindings en silwerbevattende wondbedekkings het ’n gevestigde plek in uitwendige wondbehandeling en oppervlak-antimikrobiese beheer. By wonde is die teiken direk en verander dit die omgewingstoestande, wat dit onmoontlik maak vir bakterieë om op ’n wondoppervlak te leef en voort te bestaan. Silwer breek biofilm af en verlaag besmettingskanse – en daardeur kan silwer help om die mikrobiese lading te verminder. Maar daardie uitwendige sukses beteken nie vanselfsprekend dat dit ook interne siektebeheer sal verbeter nie. Dit is so goed soos om ’n mondvol “Deep Heat” af te sluk as jy lyfseer het, in plaas daarvan om dit uitwendig op die seer spier aan te wend.

Wanneer ’n produk beweer dat nano-silwer ’n virus binne die dier “doodmaak” of beheer, moet die bewyslas hoog wees. Intern raak die situasie kompleks: 

• die virus is in interaksie met selle en weefsel;

• die dosis van silwertoediening is belangrik – verspreiding van die produk, saam met sy draers, en veiligheid word groot bekommernisse; 

• en meganismes wat teoreties goed klink, is selde dieselfde as wat in kliniese resultate by werklike diere onder veldtoestande bewys word. 

Hoe is dit dan dat daar nie reeds BKS-plase is wat jubel en juig oor die merkwaardige verskil, met syfers en bewyse van hoe dit BKS in sy spore gestuit het nie? 

’n Meer eerlike standpunt is eenvoudig: Ons kan nie net aanvaar dat, omdat silwer op ’n wondoppervlak werk, dit daarom ook binne-in die liggaam teen ’n virale siekte gaan werk nie. Sonder sterk, spesie-spesifieke bewyse van doeltreffendheid én veiligheid, bly dit slegs bewerings. En die kruks van die saak is dat vervaardigers of verspreiders nie met bewyse vorendag kom wanneer iemand hulle nader en die pamflette se bewerings ’n bietjie begin ontleed nie. Weer eens is dit kommerwekkend. 

 

DIE OKSIDATIEWE STRES-STORIE 

Selfs “moontlike meganismes” het ’n prys. Sommige nano-silwerprodukte word beskryf as werkend deur oksidatiewe skade (Reactive Oxygen Species/ROS), wat mikrobes kan ontwrig. Selfs al klink dit of daar potensiaal in die meganisme in ’n laboratorium lê, is die risiko in ’n lewende dier dat oksidatiewe stres ook weefselskade, inflammasie en stadiger herstel kan veroorsaak. Die koste is dus nie net finansieel, soos ’n mors van geld nie – dit kan ook biologies wees. 

 

DIE BETER BELEGGING: IMMUNITEIT EN HERSTEL 

Wanneer boere in paniek groot bedrae begin spandeer, is dit nodig om ’n tree terug te vat, perspektief te kry en liewers te vra: “Waar kan ek daardie geld eerder bestee om sekerheid te kry vir my diere se herstel en welstand?” Is dit nie wyser om diere se vermoë te ondersteun om te kan reageer en te herstel, eerder as om iets in te gee waarvan die bewerings vol gate is en wat selfs skade kan berokken nie? 

Ondersteun eerder deur:

- te verseker dat spoorminerale voldoende is (sink, selenium, koper, mangaan);  

- verminder oksidatiewe stres deur normale fisiologiese weë,  ondersteun epiteelherstel (mond- en voetweefsel is sentraal in BKS se afbrekende nagevolge);  en 

- verbeter algemene immuun-gereedheid. 

Eerder as om ’n premie te betaal vir ’n “silwer koeël” met onseker interne bewys, is dit waarskynlik wyser om hulpbronne te plaas waar ons wél weet dit help – by voeding, spoormineraalstatus, immuunfunksie en weefselherstel.

Pasop om iets te doen net om iets te doen. Dit mag jou dalk beter laat voel, want ten minste doen jy iets, maar pasop: Al kan dit wees dat dit geen werklike negatiewe uitwerking het nie, maak jy iemand ryk wat bewerings maak sonder bewyse. 

Ek wil herhaal: Silwer het beslis ’n geldige plek uitwendig, veral in wondbestuur. Maar tydens hierdie bekommernis moet ons versigtig wees dat daardie waarheid nie gerek word tot ’n interne “genesingsgedagte” sonder enige werklike bewyse nie. Wanneer begrotings onder druk is en bekommernis hoog loop, is dit waarskynlik wys om hulpbronne te fokus op benaderings wat bewese ondersteuning bied vir die kudde se herstel en veerkragtigheid – soos immuunondersteuning en algemene herstelvermoë – eerder as om staat te maak op beloftes wat nog nie voldoende bevestig is nie.

theuns.botha.laubscher@gmail.com

 

LANDBOUMINISTERIE

Die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Inge Zaamwani, het verlede week tydens haar ministerie se jaarlikse personeelvergadering haar kommeR uitgespreek oor die feit dat agt uit nege Suid-Afrikaanse provinsies nou met BKS besmet is, met slegs die Noord-Kaap-provinsie wat veilig bly.

"Sodra daar ’n geval in die Noord-Kaap is, is dit net ’n kwessie van tyd voordat Namibië se hele BKS-vrye sone geraak word," het die minister gewaarsku en die erns van die situasie vir die land se veebedryf beklemtoon.

Intussen het Botswana verlede Woensdag vermoedelike gevalle van BKS in sy Noordoos-distrik aangekondig, wat onmiddellike beperkings op dierebewegings en ’n vinnige reaksie van die regering tot gevolg gehad het.

 

NLU 

Met die BKS- uitbrekings in naburige Suid-Afrika word daar gereeld vrae gevra waarom beeste in Namibië se BKS-vry sone nie as ’n voorkomende maatreël geënt word nie.

Volgens die Namibië Landbou-unie (NLU) is Namibië se benadering daarop gemik om sy internasionaal erkende BKS-vrye status sonder roetine-inenting te beskerm.

"Hierdie status is van kritieke belang vir toegang tot hoëwaarde-uitvoermarkte. Roetine-inenting maak dit moeiliker om te bewys dat diere werklik siektevry is, aangesien ingeënte beeste teenliggaampies ontwikkel wat moeilik onderskei kan word van dié wat deur natuurlike infeksie veroorsaak word," lui die NLU se weeklikse nuusbrief.

"Indien Namibië voorkomende inenting sou instel, kan dit marktoegang belemmer en ernstige ekonomiese gevolge vir die veebedryf hê, selfs in die afwesigheid van ’n uitbreking.

"In plaas daarvan fokus Namibië op streng bewegingsbeheer, toesig, grensmaatreëls en vinnige reaksievermoë. Inenting bly ’n opsie tydens ’n uitbreking, maar slegs op ’n beheerde en doelgerigte wyse," sê die NLU.

"Om nie te ent nie is dus ’n doelbewuste strategie om marktoegang en langtermyn waarde vir boere te beskerm, terwyl die risiko van BKS deur voorkoming en paraatheid bestuur word."

In ’n onderhoud met Agri Monitor het die uitvoerende bestuurder van die NLU, Roelie Venter, verduidelik waarom die beskerming van Namibië se BKS-vrye status ’n nasionale ekonomiese prioriteit is. Met die siekte wat vinnig regoor Suid-Afrika versprei, neem die risiko vir Namibië toenemend toe.

Venter waarsku dat ’n BKS-uitbreking alle lewendehawe-uitvoere onmiddellik sal stop, die hele waardeketting sal laat ineenstort en landelike ekonomieë wat van internasionale handel afhanklik is, sal knak. Hy beklemtoon die kritieke rol van grens-biosekuriteit, die werk van die direktoraat veeartsenydienste (DVS) en die Lewendehawe- en Lewendehaweprodukteraad (LLPB), asook die dringende behoefte aan openbare bewusmaking, aangesien die virus nie net deur diere nie, maar ook deur mense, voertuie, klere en voedselprodukte versprei kan word.

Die onderhoud herhaal ook die belangrikheid van vroeë aanmelding, gesamentlike optrede deur landbou-unies en die private sektor, asook streng nakoming van biosekuriteitsmaatreëls om ’n scenario te voorkom wat vergelykbaar is met die “Covid van die lewendehawe-sektor”.

SA KRISIS

In Suid-Afrika waarsku boere die BKS-krisis is so ernstig is dat Suid-Afrika se voedselsekerheid in die gedrang is. Boere word gedwing om honderde diere van kant te maak, talle produsente staan op die rand van bankrotskap en uitvoer het feitlik tot stilstand gekom. 

Die landbouminister John Steenhuisen, het intussen die regering se nuwe aksieplan aangekondig, wat massa-inenting insluit. Miljoene eenhede entstof word vanaf Turkye, Argentinië en Botswana te bekom. Volgens sommige boere is dié ingryping egter te laat en hulle glo die krisis verg dringender en beslissender optrede.

Steenhuisen sê hy kan nie goedkeuring verleen aan boere om entstowwe teen BKS in te voer nie, aangesien dié entstowwe wêreldwyd wetlik beheerde medisyne is.

"Aangesien dit vir bioterrorisme en op verskeie ander misdadige maniere gebruik kan word, moet dit deur lande beheer word," sê hy.

Vrystaat Landbou (VL) het saam met Saai en Sakeliga regstappe gedoen sodat boere ook in hul private hoedanigheid entstowwe teen BKS kan invoer, het Netwerk24 vroeër berig.

Steenhuisen het Saterdag in Bloemfontein op ’n vraag oor die redes waarom goedkeuring nie verleen kan word nie, gesê dit is nie soos gewone medisyne wat van die rak gekoop kan word nie.

"Jy moet na ’n geregistreerde apteker en ’n geregistreerde struktuur gaan, want dit is ’n geskeduleerde en beheerde medisyne," sê hy.

"Ek het baie duidelik gesê ons sal graag private veeartse, private veeartsenykundige organisasies en bedryfsliggame betrek om ons te help met die uitrol van entstowwe."

Hy het ook die private sektor by die verkryging van entstowwe betrek, sê Steenhuisen.

Vir die eerste keer in Suid-Afrika sal twee plaaslike private maatskappye entstowwe invoer, sê hy. "Biogénsis Bagó gaan inkom, asook Dolvett van Turkye."

"Maar dit moet ’n staatsbeheerde siekte bly," sê hy.

In die geval van die coronavirus kon jy ook nie net by ’n apteek instap, ’n Covid-19-entstof koop en dit aan jou kinders toedien nie, sê hy.

"Dit moes deur professionele mediese personeel gedoen word, en daar is ’n baie goeie rede daarvoor. Eerstens is dit ’n beheerde medisyne en tweedens gaan ons binnekort miljarde rande bestee aan entstowwe. Ons moet in staat kan wees om aan die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid te bevestig dat ons ’n inentingsprogram gehad het, en dat dit gemonitor, toegedien en aangeteken is - en verifieerbaar is - sodat ons ons bek-en-klouseerstatus kan laat ophef," sê hy.

Indien daar vrylik toegang tot entstowwe is, word bogenoemde onmoontlik, sê hy.

"Derdens het ons reeds gesien wat gebeur wanneer boere hul eie entstowwe invoer. Dit het in KwaZulu-Natal gebeur. Boere het onwettig entstowwe uit Kenia ingevoer en wat is die gevolg daarvan? Hulle het moontlik nou nuwe stamme in daardie entstowwe ingebring wat ons nog nooit tevore hier gehad het nie."

Steenhuisen sê hy is bereid om sy saak te stel indien hy voor die hof gedaag word.

"Dit stel my net teleur dat jy te midde van ’n krisis organisasies het wat voorgee om boere en boere se belange te verteenwoordig."

Wat dit uiteindelik kan meebring, is dat die beskikbaarstelling van die entstof vertraag word, sê hy.

"Want as ons nou in ’n groot regsgeskil daaroor betrokke raak, moet ek wag met die verkryging van entstowwe totdat hierdie saak opgeklaar is," sê hy.

"Ek gaan nie miljarde rande se openbare geld aan entstowwe bestee as dit net ’n algemene bakleiery gaan word en enigiemand kan dit kry nie. Dan is dit goed; ek sal dit nie verkry nie. Ons sal dus vir regsekerheid moet wag."

Volgens Steenhuisen was sy antwoord aan die organisasies duidelik.

"Ons is in die middel van ’n krisis. Kom ons kom hierdeur. Kom ons ent die kudde in. Kom ons bereik my teiken van 80% teen einde vanjaar en ’n 70%-vermindering in die gevalle van uitbrekings. Kom ons werk saam om seker te maak dat dit die laaste uitbreking ooit van bek-en-klouseer is."

Volgens Steenhuisen is die private sektor vir die eerste keer by elke stap in die proses betrokke - van die ministeriële taakspan en die span wat dit uitvoer tot die verkryging en uitrol van entstowwe.

"Ons doen die regte dinge. Mense moet die proses vertrou en daarmee saamgaan pleks daarvan om dit te probeer saboteer. Daar is genoeg tyd nadat die krisis bedaar het om hof toe te gaan en oor wette te debatteer," sê hy.

Steenhuisen sê sy bekommernis oor ’n regstryd is dat hy sy hoofde van biosekuriteit en veeartsenykunde aan die voorste linie van die geveg teen die siekte sal moet onttrek om hofsake te hanteer.

"Ek sal geld aan hofsake moet bestee wat ek aan entstowwe of personeel sou kon bestee," sê hy.

"Dit is dus baie kortsigtig van hierdie organisasies. Ek verstaan ook nie waarom hulle nie eens kan erken dat daar in die afgelope agt maande meer vordering met bek-en-klouseer gemaak is as in die vorige 13 jaar nie."

 

WAT IS BEK-EN-KLOUSEER?

Bek-en-klouseer (Aphtae epizooticae), is ’n hoogs aansteeklike- en soms noodlottige virussiekte wat beeste en varke opdoen. Dit kan ook wildsbokke, bokke, skape en ander gesplete hoefdiere besmet en ook olifante en rotte.

Friedrich Loeffler het in 1897 vir die eerste keer uitgewys dat die siekte deur ’n virus veroorsaak word. Hy het die bloed van ’n besmette dier deur ’n fyn porseleinfilter gestuur en gevind dat die oorblywende vloeistof steeds die siekte in gesonde diere veroorsaak. Dit beteken dat die oorsaak van die siekte onsigbare klein patogene moet wees, omrede hulle nie deur die porseleinfilter verwyder kon word nie.

BKS kom regdeur die wêreld voor en terwyl sommige lande vir ’n redelike lang tyd vry was van die siekte, bly die siekte steeds ’n bron van kommer vanweë sy wye gasheerbasis en vinnige verspreiding. Na afloop van die Tweede Wêreldoorlog was die siekte wyd oor die wêreld versprei. In 1996 het endemiese gebiede Asië, Afrika en dele van Suid-Amerika ingesluit. Nieu-Seeland het nog nooit ’n uitbraak van bek-en-klouseer gehad nie.

Die meeste Europese lande word as vry van die siekte beskou en die lidlande van die Europese Unie (EU) het hul inentingsprogramme gestaak.

Daar is sewe verskillende soorte bek-en-klouseer serotipes: O, A, C, SAT-1, SAT-2, SAT-3 en Asië-1. Hierdie serotipes toon ’n mate van streeksgebondenheid en die O-serotipe is die algemeenste.

Die algemene ontkiemingstyd vir die BKS-virus wissel maar is gewoonlik tussen drie en agt dae. Die siekte word gekenmerk deur ’n hoë koors wat vinnig afneem na twee of drie dae; blase in die bek wat lei tot oormatige afskei van skuimagtige speeksel en ’n gekwyl en ook blase op die pote wat kan bars en lamheid tot gevolg kan hê.

Volwasse diere kan gewigsverlies ondergaan waarvan hulle vir verskeie maande lank nie sal herstel nie en bulle kan geswolle testikels hê. Koeie se melkproduksie kan ook beduidend verminder. Hoewel die meeste diere uiteindelik herstel van BKS kan die siekte lei tot miokarditis (inflammasie van die hartspier) en die dood, veral by pasgebore diere. Sommige besmette diere bly asimptomaties -- dit wil sê hulle toon geen tekens van die siekte nie. Sulke diere kan egter die siekte oordra aan ander diere.

BKS-besmetting neig om plaaslik voor te kom -- dit wil sê, die virus word oorgedra aan vatbare diere deur direkte kontak met besmette diere of besmette stalle of voertuie wat vir die vervoer van lewende hawe gebruik word. Die klere en vel van mense wat diere hanteer, stilstaande water en ongekookte voedselreste en byvoedings wat besmette dierprodukte bevat kan ook die virus oordra. Beheermaatreëls sluit kwarantyn en die vernietiging van besmette lewende hawe en die verbod op uitvoere van vleis en ander produkte na lande wat nie met die siekte besmet is nie.

Mense kan besmet word met BKS deur kontak met besmette diere, maar dit gebeur bitter selde. Omdat die virus wat BKS veroorsaak sensitief is vir maagsuur, kan dit nie na mense versprei word deur die eet van besmette vleis nie. In die Verenigde Koninkryk het die laaste menslike geval in 1967 voorgekom en slegs ’n handjievol ander gevalle is al aangeteken in die res van Europa, Afrika en Suid-Amerika. Simptome van BKS in mense sluit in ongesteldheid, koors, braking, rooi sweeragtige letsels van die mondweefsel en soms klein blase op die vel.

Agri Monitor het gister aan die DVS in die landbouministerie gevra hoe dit sal voorkom dat BKS in Namibië uitbreek en hoe Namibië die situasie sal hanteer as dit wel hier uitbreek. Die landbouministerie het belowe om antwoorde verskaf.

– Bykomende bronne: NLU, Netwerk24, Wikipedia