Agri Monitor 12 November 2024
Oestyd van tafeldruiwe skop vandeesweek in die verre Suide by Aussenkehr af en die toekoms lyk belowend. Met nuwe aanplantings, verbeterde infrastruktuur, internasionale marktoegang en beste boerderypraktyke, het die Namibia Grape Company (NGC) by Aussenkehr daarin geslaag om tafeldruiweproduksie van 1,4 miljoen kartonne in 2007 tot 2,4 miljoen kartonne in 2024 te verhoog, ’n fenomenale toename van 71%. Die maatskappy het sy kontrak met Capespan met 20 jaar verleng.
Okahandja-boere het by die gala-aand van die Namibië Landbou-unie en Lewendehaweprodusente-organisasie koning gekraai. Streicher en Hella Coetzee is as die LPO Veeprodusente van die jaar aangewys en het met die Toyota-bakkie weggery. Annette Kotze is as die Landbouvrou van die Jaar aangewys. Helmeringhausen BV is die wenners van die Gemeenskapsprojek.
Windhoek Afrikaanse Privaatskool se junior leerlingraad het ’n uitstekende voorbeeld gestel en 125 Kersbokse vir ’n Boervrou ingesamel. Dit is deel van Droogtehulp Namibië se projek wat tydens 2019 se droogte van stapel gestuur is om skoenboks vol bederfprodukte vir ’n boervrou te pak. Volgens Henriëtte Le Grange van die organisasie is die mikpunt 500 skoenbokse, “maar dit is hopeloos te min en maak die verdeling moeilik”. Die afsnydatum om die skoenbokse by afleweringspunte landswyd in te handig, is Vrydag 16 November, maar Maandag 19 November in Windhoek. Dit is om genoegsame tyd vir die organisasie te gun om die geskenkbokse aan boervroue uit te deel. Die geskenkbokse sal dan saam met vragte voer uitgedeel word. Besoek Droogtehulp Namibië se Facebookblad vir die landswye afleweringspunte.
Tydens die BXB Elite-veiling by die Agra-ring in Windhoek is twee Tuli-bulle vir N$80 000 elk verkoop. Dit is die eerste keer in die geskiedenis dat die Tuli-beesras in Namibië op ’n veiling aangebied is. Ses dragtige kommersiële Tuli-kruisverse (dragtig van ’n opregte Tuli-bul) het ook onder die hamer gekom met drie wat vir N$19 000 elk verkoop is en die ander drie vir N$18 000 elk. Tans is daar drie geregistreerde Tuli-telers in Namibië, naamlik dr. Hannes Human met die Kapit-Yt-stoet en sy seun, Jürgen-Leigh Human, met die Whaddon-stoet van die plaas Ombu-Ondana in die Gobabis-distrik, asook Volker Rugheimer met die NAM Tuli-stoet naby Dordabis. "Ons is so dankbaar en tevrede," het Jürgen-Leigh na afloop van die veiling gesê.
Stedelike tuinbou is deur die Green Cities Initiative na Eenhana uitgebrei. Gemeenskappe is voorsien van kweekhuismateriaal soos tuinmaakgereedskap en saailinge van onder meer groente en vrugtebome.
Die nominasies vir Grassroots Owen-Smith Gemeenskapsbewaarders-toekennings vir 2025 het geopen. Dit staan bekend as die GOSCARS. Hierdie toekennings erken die mans en vroue wat in die veld werk, letterlik kilometeres loop om ons biodiviersiteit soos ons renosters,, leeus en flora te beskerm.