Een van die droogste Januaries
Die oggendstond het goud in die mond by Sossusvlei. Foto Koos Matthee/Facebook/Namibië Reën / Weer

Een van die droogste Januaries

Januarie 2026 was die agste droogste sedert 1981.

Volgens die Climate Watch-verslag van Januarie van die Meteorologiese Diens (Meteona) in die ministerie van werke en vervoer, was Januarie 2026 sigbaar droër.

Dit volg ná ’n buitengewone nat Desember, met die uitsondering van die noordoostelike helfte en geïsoleerde gebiede oor die ooste­like Hardapstreek.

Die hoogste reënval is sporadies oor die Zambezistreek aangeteken, volgens die verslag.

“Die hoogste maandelikse reënval is by Sachona met 442,9 mm aan­ge­teken, gevolg deur Kasheshe 338 mm, Katima Mulilo 311 mm, Bukalo 227,5 mm en die Katima Mulilo-lughawe 224,4 mm. Weerstasies van ander streke het reënval van minder as 200 mm ontvang,” lui die verslag.

Zambezi, Kavango-Wes, die groot­ste deel van Oshikoto, dele van Ku­nene en Otjozondjupa het volgens Meteona gemiddelde reën­val aange­teken.

Wat die reënseisoen van Oktober 2025 tot Januarie 2026 betref, het die noordoostelike streke, sentrale Noorde wat suidwaarts in die suid­oostelike dele van die land strek, bogemiddelde reënval aangeteken.

In teenstelling hiermee is onder­gemiddelde reënval langs die kus en suidwestelike dele van die land waargeneem.

“Die swak reënval in Januarie 2026 het die opgehoopte reënval­hoeveelhede vir die seisoen van Oktober 2025 tot Januarie 2026 verminder.”

Goeie nuus van Landwater se Facebookblad: Die hewige tropiese sikloon Gezanie suid van Madagas­kar “krul pragtig én kragtig op pad suid met sy draakgesiggie. So verdien elke Dodelike Verwoester seker ook ‘afsluiting’.”


KOELER JANUARIE

Die hoogste temperature bo 28 °C was in die suidoostelike dele van Namibië gekonsentreer.

“Die westelike platorandgebied het relatief koeler temperature onder 24 °C getoon, wat toegeskryf kan word aan die sinoptiese stelselinteraksies gedurende die maand.

“Die afkoeling oor die streke van westelike Otjozondjupa en die sentrale Zambezi was egter te wyte aan voortdurende reënval geduren­de Januarie,” lui die verslag.

“Kortom, Januarie 2026 is geken­merk deur hoofsaaklik ondergemid­delde temperature oor sentrale en noordwestelike Nami­bië, geasso­sieer met verbeterde wolkbedek­king en aktiewe reën­valtoestande.”

In teenstelling hiermee het dele van suidelike-sentrale tot suid­ooste­like Namibië aansienlik bo­gemiddelde temperature ervaar, wat dui op verminderde reënval en verhoogde hittestrestoestande, vol­gens Meteona.

“Die verre noordelike en suidelike streke toon bogemiddelde tempe­ra­tuurafwykings van die gewone patroon vir die maand Januarie.”


MAART TOT MEI

Volgens die Amerikaanse Nasionale Oseaniese en Atmosferiese Admini­strasie (NOAA) het La Niña-toestande gedurende Januarie voort­geduur met ’n temperatuur­afwykings van -0.9 °C oor die El Niño-streek.

“’n Oorgang van La Niña na El Niño Suidelike Ossillasie- (Enso) neutrale toestande word in Februarie tot April met ’n 60%-kans verwag,” sê Meteona.

Die temperatuurvooruitsigte vir April tot Junie 2026 dui op ’n hoë waar­skynlikheid van bogemiddelde tempe­rature oor die meeste dele van die land.

In teenstelling hiermee word verwag dat Kunene, Omusati, Erongo, Khomas, dele van Hardap, westelike Otjo­zondjupa en oostelike ||Kharas normale temperatuurtoestande sal ervaar.


RIVIERE

Noordelike riviervlakke is besig om te styg ná goeie reënbuie in die gebied. Gemeenskappe langs riviere word ge­waarsku om waaksaam te wees. 

Volgens die Hidrologiese Dienste van Namibië het die Zambezirivier se vlak by Katima Mulilo van verlede Maandag van 1,69 m tot 2,01 m hierdie Maandag gestyg.

Dieselfde geld vir die Kavangorivier wat ’n toename van 5,17 m tot 5,64 m by Rundu getoon, die vlak by Divundu van 3,29 m tot 3,50 m gestyg het.By Kongola het die vlak ook oor die ooreenstem­mende tydperk van 1,62 m tot 1,.82 m verhoog.

Hierdie riviere sal na verwagting aan­hou styg, aangesien swaar donder­storms in die Zambezi en Kavango voorspel word, asook wydverspreide reënbuie in verskeie streke.

– francoise@nmh.com.na