Die Kommunikasie-reguleringsowerheid (Cran) het onlangs sy ooreenkoms met Telecom Namibia aangekondig, wat byna N$10 miljoen sal vrystel vir die installering van Radioteogangsnetwerk (RAN) torings regoor die platteland. Vroeg in April het Telecom se uitvoerende hoof Stanley Shanapinda gesê: “Hierdie ooreenkoms verteenwoordig 'n beduidende stap vorentoe in ons missie om alle Namibiërs te verbind. Deur hierdie fondse in robuuste infrastruktuur te belê, bou ons nie net torings nie; ons skep 'n digitale lewenslyn vir landelike gemeenskappe.”
Na die telekommunikasie staatsonderneming suksesvol daarvoor gebie het, is spesifiek N$9 796 650 toegeken vir die ontplooiing van noodsaaklike telekommunikasie-infrastruktuur oor sleutelterreine, “wat verseker dat afgeleë gemeenskappe to
egang kry tot betroubare en hoëgehalte-kommunikasiedienste,” lees Telecom se vrystelling. Die ontplooiing van hierdie infrastruktuur teiken onderbediende gebiede in streke soos Kavango-Oos, Kavango-Wes, Kunene, Ohangwena, Omusati, Oshikoto, Zambezi en //Kharas.
Die nuwe infrastruktuur is bedoel om stem- en internet konneksie te verbeter, terwyl Telecom ook ingestem het dat onderwys en gesondheidsfasiliteite binne die dekking van die nuwe torings vir die opvolgende sewe jaar verniet gekoppel sal word.
Cran se uitvoerende hoof, Emilia Nghikembua het terselfdertyd gesê: “Die Universele Diensfonds (USF) is 'n hoeksteen van ons strategie om inklusiewe kommunikasiedienste te verseker. Deur 'n deursigtige en streng keuringsproses het ons met Telecom Namibia saamgewerk om ons digitale infrastruktuurdoelwitte vir 2024 tot 2027 te versnel.”
Deur die selfde USF het Cran reeds in Februarie met Namibië se voorste selfoondiensverskaffer, MTC, ‘n soortgelyke alhoewel grooter ooreenkoms geknoop. Tot dusver is ‘n totale toelaag van N$42,1 miljoen onder fase twee van die Universele Diensfonds se uitvoer toegeken. Telecom Namibia en MTC is tot dusver die enigste suksesvole kontrak begunstigdes.
“Die kontrak bepaal dat, na ondertekening, 70% uitbetaal moet word; altesaam N$29,4 miljoen onder USF Fase 2. Dit sluit N$22,6 miljoen in wat aan MTC toegeken is en N$6,8 miljoen aan Telecom Namibia. 'n Bykomende N$27,8 miljoen is aan MTC uitbetaal onder Fase 1,” lees antwoorde wat Cran op navraag voorsien het.
“Die oorblywende saldo's vir beide entiteite sal betaal word na suksesvolle voltooiing van die projek,” brei Cran uit.
Altesaam word 12 RAN-torings in Fase 2 van die USF befonsde infrastruktuur uitbreiding ontplooi, met Telecom Namibia wat drie bou, terwyl MTC 9 sal bou. Laas jaar, na die vestiging van die USF in Maart, is 9 torings gedurende Fase 1 reeds opgesit.
Ongeveer 100 torings word oor die volgende vier jaar benodig, om volgens Cran die konnektiwiteitsgaping aan te spreek. “Dit sal ongeveer N$400 miljoen vereis. Benewens
hierdie terrestriële infrastruktuur, sal ander tegnologieë soos gemeenskapsnetwerke en lae-aardbaan-satelliete ontplooi word,” voeg die reguleerde by.
Die USF word befonds deur 'n jaarlikse heffing van 0,5% op telekommunikasielisensiehouers, sowel as 'n regeringsverbintenis van N$145 miljoen oor 'n tydperk van vier jaar, volgens Cran.