'Wetenskap, nie politiek’
Die toekoms van in situ-loging van uraanontginning in die Omahekestreek sal volledig deur tegniese bewyse en wetenskaplike bevindings bepaal word.
“As die wetenskap nee sê, sal ons nee sê. Dit is nie ’n politieke besluit nie, dit is ’n wetenskaplike besluit,” het Timoteus Mufeti, omgewingskommissaris in die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme (MEFT), gister gesê.
“Ons neem twee waardevolle hulpbronne in ag. Die een is die water, die ander is die uraan. Ons is nie onbewus van die belangrikheid daarvan nie.”
Hierdie standpunt is deur regeringsverteenwoordigers, Mufeti en
Axel Tibinyane, direkteur van die owerheid vir atoomenergie en bestralingsbeskerming in die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste, tydens ’n mediakonferensie by MEFT in Windhoek verduidelik.
Ná ’n onafhanklike oorsig wat onlangs deur die Internasionale Atoomenergie-agentskap (IAEA) oor die Leonardville-projek gedoen is, het amptenare bevestig dat die staat tans op ’n finale tegniese verslag wag wat teen die einde van Maart 2026 verwag word.
Geen besluit is nog oor die voorstel deur Headspring Investments, ’n filiaal van Uranium One onder die Rosatom-groep, geneem nie, het Mufeti bevestig.
“Of jy nou vir of teen die projek is, die gevoel is dat wetenskap in besluitneming moet seëvier. Dit is waarom ons die IAEA genader het.
"Ons weet [in situ-ontginning] werk in ander lande, maar ons is bekommerd, veral omdat dit in die akwifer en drinkwater sal plaasvind,” het hy gesê.
Tydens die mediakonferensie is vrae deur Agri Monitor geopper oor die onpartydigheid van die IAEA se oorsig, met spesifieke verwysing na adjunk-direkteur-generaal Mikhail Chudakov se professionele geskiedenis met Rosatom.
Tibinyane het hierdie kommer van die hand gewys en gesê dat internasionale amptenare gebonde is aan organisatoriese waardes en gedragskodes wat individuele vooroordele oorskry.
“Net soos jy hom daar het wat bande met Rusland het, het jy net so ander werknemers, byvoorbeeld uit die VSA, wat met ander VSA-gebaseerde organisasies verbind is,” het hy gesê. “Maar ons stel ons vertroue in die organisasie [IAEA] om binne sy vasgestelde raamwerk te werk en sy waardes te handhaaf.
Tibinyane voeg by: “Aan die einde van die dag is wetenskap wetenskap en twee plus twee sal steeds twee plus twee bly, ongeag wie jy is.”
Die bespreking het ook gefokus op of die projek die beste langtermyn-besluit vir die toekomstige geslagte van Namibiese kinders en die land se toekoms is.
“Ons as ’n nasie het besef dat ons ’n bedryf rondom hierdie hulpbron [uraan] moet ontwikkel, omdat dit baie ekonomieë regoor die wêreld aandryf,” het Tibinyane gesê.
“Dit is egter ’n beperkte hulpbron en ons moet bedag wees daarop dat ons dit nie vir altyd sal hê nie.
“Ons moet maniere vind om dit steeds te ontgin terwyl ons verseker dat ons ander aktiwiteite opbou wat die hulpbron self sal oorleef.”
Die regulatoriese doel is om te verseker dat strategiese hulpbronne bestuur word sonder om omgewingsveiligheid of openbare gesondheid in te boet.
Mufeti het benadruk indien die metodologie wetenskaplik onveilig bevind word, die projek nie sal voortgaan nie. Die finale bepaling bly hangend ’n interministeriële oorsig van die IAEA se aanbevelings.
Mufeti het die publiek wel verseker dat die IAEA nie ’n besluitnemende liggaam is nie. Die finale besluit berus by die Namibiese regering.
– jacques@nmh-hub.com.na
