Verslag ‘eensydig’, sê Sauma
Water is Namibië se waardevolste en kwesbaarste hulpbron. Enige besluit wat dit in gevaar stel, moet gebaseer wees op deeglike wetenskap, inklusiewe konsultasie en die beginsel van voorsorg.
Waarom ignoreer die staande komitee oor natuurlike hulpbronne dan Namibiese wetgewing oor die bestuur van waterhulpbronne?
Die Vereniging vir Uraanmynbou in die Stampriet-akwifer (Sauma) het gister met kommer en verbasing gereageer op die aanbeveling van die staande komitee oor natuurlike hulpbronne in ’n verslag dat Headspring Investments met sy in situ-logingsprojek vir uraanmynbou in die oorgrens- Stampriet artetiese kom voortgaan.
Volgens Sauma is die vereniging nooit tydens enige stadium van die komitee se proses geraadpleeg nie en blyk dit asof net Headspring Investments, ’n maatskappy in buitelandse besit, eksklusiewe betrokkenheid geniet het.
Dit laat fundamentele vrae ontstaan oor die deursigtigheid, balans en geloofwaardigheid van die staande komitee, het Sauma gister in ’n verklaring gesê. Dit beskryf die komitee se standpunt in die verslag en die feit dat net een kant van die saak aangebied is, as “hoogs onverantwoordelik”.
Wat veral volgens Sauma kommer wek, is die voortgesette afwesigheid van ’n omvattende, onafhanklike hidrogeologiese vloeistudie gebaseer op die huidige waterverbruik in die opvanggebied.
“So ’n studie is uitdruklik aanbeveel deur ’n vorige staande komitee en is ’n voorvereiste vir ingeligte en verantwoordelike besluitneming.
Om voort te gaan sonder hierdie kritieke assessering, ignoreer goed gedokumenteerde omgewingsrisiko’s wat verband hou met in situ-loging-mynbou van uraan,” lui die verklaring.
Die kom word deur plase bedek en is al dekades lank ’n landbougebied.
Volgens Sauma is uitgebreide gepubliseerde studies oor die ondergrondse geologie en hidrologie geïgnoreer. Dit is egter van kritieke belang om die uiterste gevare te verstaan wat in situ-loging-mynbou vir die grondwater inhou waarop diegene wat in die kom boer vir hul lewensbestaan staatmaak, aldus die verklaring.
“Die ondergrondse water is die enigste water wat hulle het. Tans pomp besproeiing meer as 700 kubieke meter water elke uur, 24 uur per dag, elke dag, die hele jaar deur.”
Dit veroorsaak ’n enorme vloeitempo van die ondergrondse water en trek water van kilometers verder, volgens die verklaring.
Sauma sê dit alleen sal hoogs giftige mynoplossing uit ’n myngebied trek en wydverspreide besoedeling van die kritieke bron van ondergrondse drinkwater veroorsaak.
Die vereniging het ook kommer uitgespreek oor die potensiële oorgrens-impak op gedeelde grondwaterbronne.
“Indien buurlande besoedeling van hul bronne vir drinkwater ervaar en vergoeding eis, bly dit onduidelik wie verantwoordelikheid vir sulke gevolge sal dra.”
Sauma sê hy oorweeg tans alle beskikbare opsies in reaksie op die komitee se verslag.
“Die studies en verslae van kundiges wat deur Sauma geëvalueer is, beklemtoon deurgaans beduidende risiko’s en onopgeloste uitdagings.
“Dit is dus diep kommerwekkend dat gevolgtrekkings blykbaar bereik is sonder voldoende oorweging van hierdie faktore.”
Die vereniging het beklemtoon hy bly verbind tot die beskerming van Namibië se waterbronne en om te verseker dat mynboubesluite in die beste langtermynbelang van die land en sy mense geneem word.
– henriette@republikein.com.na
