’n Bejaarde vrou se huis in die Okongwe-nedersetting is ernstig beskadig nadat ’n olifant dakplate afgeruk en mure afgebreek het terwyl hy na veevoer gesoek het.
Die huis van die 74-jarige Hulda Karumendu het erge skade tydens die nagmerrievoorval opgedoen, wat volgens inwoners omstreeks 21:00 Dinsdag begin het en tot middernag aangehou het.
Geen beserings is aangemeld nie, maar Karumendu het daardie nag nie teruggegaan huis toe om daar te slaap nie, uit vrees dat die olifante weer kan terugkeer.
Inwoner Veripurua Mureti het gesê die grootpote het eers by plaaslike waterpunte opgedaag voordat hulle deur die nedersetting in die Dâures-kiesafdeling in die Erongostreek beweeg het.
“Die olifantbul het die dak afgeruk en begin vreet aan die voer wat binne gestoor was,” het hy gesê.
“Hy het die dak oopgebreek en die muur gebreek, die sakke uitgehaal en hulle op die grond neergegooi om te eet.”=
Foto’s van die toneel wys verwronge metaaldakplate, gekraakte mure wat ineengestort het en en voersakke wat rondgestrooi lê.
’n Buurman het glo ’n voertuig gebruik om die olifante ná etlike ure te verwilder.
Mureti het gesê dieselfde olifantbul is met vroeëre voorvalle verbind en gewaarsku dat die flapoor ’n toenemende bedreiging vir inwoners word.
Dié olifant is glo 'n ou moeilikheidmaker: “Dit is nie die eerste keer dat hierdie bul so iets doen nie,” het hy gesê.
“Tot wanneer moet die gemeenskap met wilde diere wat hulle bedreig saamleef?”
Volgens inwoners bly die olifante in die gebied en kan hulle terugkeer met ’n trop wat na bewering meer as 20 diere insluit.
Mureti het gesê waterinfrastruktuur en watergate vir olifante wat naby die gemeenskap se waterpunte gevestig is, het nie die mens-olifant-konflik verminder nie.
Hy voer aan dat die nabyheid van waterbronne aan huise steeds diere nader aan inwoners lok.
Mureti het ook beweer dat vroeëre skade in naburige gebiede nooit herstel of gemeenskappe vergoed is nie.
“Selfs die laaste keer toe dinge beskadig is, is niks herbou nie. Daardie dinge staan tot nou toe nog beskadig,” het hy gesê.
– adam@erongo.com.na