Veediefstal op Aranos ‘buite beheer’

Met veediefstal en dwelmsmokkelary wat hoogty by Aranos vier, het boere en die gemeenskap ’n klagskrif en lys van 18 saaknommers vir onopgeloste sake aan die Namibiese polisiehoof oorhandig.

"As baie sake onopgelos bly, dan versuim ons ons pligte," het die inspekteur-generaal van die Namibiese Polisie (Nampol), luitenant Joseph Shikongo, Woensdag op die Suide-dorp tydens ’n vergadering oor misdaad en veral veediefstal erken.

“Vandag is my vergadering met die gemeenskap. Vandag wil ek van julle probleme hoor,” het Shikongo gesê.

Die vergadering, gereël deur die bekende boer Dirk Kotze en die plaaslike boerevereniging, is aangevuur deur ontevredenheid oor hoe Nampol van Aranos en die Hardapstreek versuim om sake behoorlik te ondersoek en op te los.

Die lys van onopgeloste sake en die klagskrif is deur Kotze aan Shikongo oorhandig tydens die vergadering in die snikhete St Andrew's Rooms-Katolieke Kerksaal in die Rooiduin-woonbuurt.

In die klagskrif word spesifiek kapsie gemaak teen die toestaan van borgtog aan polisiebeamptes Jakobus Kharuchab, Melchior Mongake en Fritz Ersterhuizen.

Die trio is op Vrydag 30 Januarie in hegtenis geneem op aanklagte van veediefstal vir die onwettige besit van vleis en die oortreding van die wet teen korrupsie vir ampsmisbruik. Esterhuizen staar ’n bykomende klag van roekelose bestuur in die gesig.

Die saak spruit uit ’n ongeluk twee dae tevore toe hulle met ’n polisiebakkie ’n koedoe gestamp het en daarna met ’n skaapkarkas en twee sakke binnegoed in hul besit gevind is.

Hulle het na bewering die vleis ter waarde van ongeveer N$2 000 van ’n plaaswerker en sonder die medewete van die plaaseienaar, op ’n plaas ongeveer 15 km buite die dorp gekry.

Borgtog van N$1 000 elk is op Maandag 2 Februarie aan hulle toegestaan, nadat polisiebeamptes vanaf Mariental glo vir die staatsaanklaer laat weet het dat die plaaseienaar nie ’n klag aanhangig gemaak het nie.

Kotze dring egter daarop aan dat die plaaseienaar, Arno van Zyl, wel klag met saaknommer CR30/01/26 op Mariental aanhangig het, omdat hy gekonkelry by Aranos se polisiekantoor vermoed het.

Die hofsaak in die landdroshof op Aranos sal op 1 Junie voortduur.

Nóg ’n ontevrede slagoffer is Eduard Herbert, wat by die vergadering sy frustrasie uitgespreek het oor die onopgeloste skaapslagtingsaak in 2023 op sy plaas, met die verdagte wat nou vry op borgtog rondloop terwyl die hoofgetuie intussen oorlede is.

Volgens ’n uitgesproke lid van gemeenskap, Lukas Veldskoen, is daar tot 1 900 kommersiële plase, asook kommunale boere en mense in die dorpsgebied wat met vee boer en ly onder die toename in veediefstal.

“Veediefstal is buite beheer. Waarom is daar nie ’n toegewyde veediefstaleenheid by die Aranos-polisiestasie nie?” wou hy weet.

“Die vraag na polisiedienste neem toe en mense verwag ’n vinnige reaksie. Drie voertuie vir Aranos is net te min,” kla hy oor tekortkominge van Nampol-vervoer in die dorp.


13 POLISIEMANNE LANDSWYD VAS

Shikongo het polisiebeamptes gemaan: “Dit is onprofessioneel om vir gemeenskapslede te sê ons het nie voertuie beskikbaar nie. Vat liewer die nommer en adres en sê aandag sal daaraan gee word, of praat met die stasiebevelvoerder wat die verantwoordelikheid het om te soek vir ander voertuie.”

Die polisiehoof het bevestig altesaam 13 polisiebeampte is sedert Januarie en tot middel Februaries landswyd in hegtenis geneem op aanklagte van veediefstal, roof en die besit van dwelms.

“Sommige van hulle is steeds in aanhouding nadat ons vir hulle gesê het om nie borgtog te kry nie,” het hy bygevoeg.

Shikongo het benadruk dat polisiebeamptes geskik en gepas vir diens moet wees en dat hy die mag het om hulle te ontslaan soos hy goeddink.

“Soms is ons beamptes hier ook die oorsaak van probleme, veral wanneer hulle sake nie behoorlik oopmaak nie,” het hy erken.

Die inspekteur-generaal sê dit is ’n probleem as mense polisiekantore besoek en polisiebeamptes sien wat op Facebook op hul selfone is in plaas van om diens te lewer.

“Polisiebeamptes moet beskikbaar wees,” beklemtoon hy.

Ander kwessies wat uitgelig is, sluit in die teistering van mense in korridors tussen plase en ’n toename in dwelmverwante misdaad in die dorp.

“Plaaslike polisiebeamptes is in die sakke van die dwelmhandelaars,” het Veldskoen gesê.

– augetto@nmh-hub.com.na