Mylpaal vir Savanna Beef
Die eerste dag van handel in slagregte by Savanna Beef Operations se nuwe uitvoerabattoir naby Okahandja was ’n reusesukses.
Cirrus Capital, die firma wat opdrag gekry het om die aandeleverhandeling te bestuur, het bevestig Maandag is 927 slagregte vir die eerste kwartaal vir die slag van beeste by die abattoir teen N$300 elk verhandel. Talle bestellings is ontvang vir die tweede, derde en vierde kwartale van 2026.
“Ons is verheug om te kan rapporteer dat die handelstelsel vir slagregte doeltreffend funksioneer,” het Savanna Beef se voorsitter, Mecki Schneider, gesê.
Aanvanklik sal slegs 2 500 slagregte op ’n proefbasis tot einde Mei 2026 verhandel word. Dit vorm deel van die aanvangsfase hangende uitvoersertifisering van die Europese Unie (EU).
Die moedermaatskappy Savanna Beef, saam met Savanna Beef Operations en Savanna Beef Processors Limited (SBPL) en die komitee van die Beesvleiswaardeketting-forum (BVCF) het vroeër vandeesmaand die nodige goedkeuring gekry om 2 500 BVCF-slagregte vir hierdie proeffase te gebruik. Schneider het ook aangekondig dat nog 86 werknemers teen einde Maart gewerf sal word. Dit sal die arbeidsmag tot net onder 200 werknemers bring.
– republikein@republikein.com.na