Die Lewendehawe- en Lewendehaweprodukteraad van Namibië (LLPBN) het kommer uitgespreek oor die Verenigde Koninkryk (VK) se besluit om invoere van vars beesvleis uit Botswana op te skort.
Dr. Anja Boshoff-De Witt, die raad se hoof vir gehalteversekering, het gewaarsku dat dié stap ’n moontlike gebrek aan vertroue in Botswana se gevestigde siekte-soneringsisteem aandui.
Sy het gesê Botswana se soneringstelsel funksioneer soos bedoel en “werk goed”, maar dat die VK se breë opskorting kommer wek.
“Wat kommerwekkend is, is die reaksie van die VK, waar dit lyk asof hierdie handelsvennote nie Botswana se sonering en beheermaatreëls vertrou of in ag neem nie,” het sy gesê.
“Dit gaan daaroor dat hierdie erkende sones deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) moontlik nie deur handelspartye erken word nie.
“Die vraag sou wees: Hoekom nie? Sien hierdie partye die behoefte om selfs oudits te doen?” het Boshoff-De Witt gevra.
“Hierdie vraag is veral relevant aangesien Namibië ook daarna kyk om sy een vrye sone verder in subsones te verdeel.”
Namibië, wat ’n siektebestuursverhouding met Botswana deel, monitor die situasie noukeurig.
“Botswana is ons buffer teen Suid-Afrika,” het sy bygevoeg.
Die VK se Agentskap vir Diere- en Plantgesondheid (APHA) het op 4 Februarie 2026 veeartsenykundige kennisgewing uitgereik, wat invoere van vars beesvleis uit Botswana wat op of ná 30 Desember 2025 verwerk is, tydelik beperk.
Die beperking het gevolg op Botswana se kennisgewing aan die WOAH van ’n uitbreking van bek-en-klouseer (BKS) wat op 29 Januarie 2026 bevestig is, met die siekte wat in Sone 6b opgespoor is en verdere vermoedens wat in Sone 3c aangemeld is.
Bewerings dat die Europese Unie (EU) ook invoere verbied het, is nie waar nie, volgens Botswana se waarnemende minister van grond en landbou, dr. Edwin Dikoloti.
Hy het op 10 Maart 2026 die gerusstelling gegee en verduidelik dat die EU nie beesvleis uit Botswana verbied het nie.
“Soos ons praat, is daar is ’n klomp vraghouers op pad na die EU,” het Dikoloti gesê.
Hy het bygevoeg dat die vleiskommissie van Botswana EU-geskikte beeste in toenemende volumes slag, met die doel om die uitvoerkwota vir Noorweë teen Junie te voltooi.
– jacques@nmh-hub.com.na