Hoofveearts is 'bevelvoerder’ teen BKS

Jacques du Toit en

Francoise Steynberg


Terwyl bek- en klouseer (BKS) druk op Namibië se suidelike grense plaas, is die boodskap uit die ministerie van landbou, visserye, water en grondhervorming se multisektorale vergadering duidelik: Dit is ’n nasionale ekonomiese noodtoestand wat geen ruimte laat vir leunstoelkenners nie.

Goliath Tujendapi, waarnemende uitvoerende hoof van die Lewendehawe en Lewendehaweprodukteraad van Namibië (LLPBN), het Vrydag ’n sterk riglyn aan die veebedryf uitgereik en ’n streng hiërargie van kundigheid beklemtoon.

Met ’n skerp skeidslyn tussen rolspelers in die bedryf en opgeleide professionele mense, het Tujendapi opgemerk dat die “foute wat uit buurlande geleer is” dikwels spruit uit onkundiges wat in tegniese krisisse inmeng.

“Wanneer ons oor hierdie BKS-kwessie praat, sal jy dadelik raaksien wie die veearts is en wie voorgee om ’n veearts te wees,” het Tujendapi gesê. Hy het aangevoer dat die chaos wat in Suid-Afrika gesien word – waar “almal ’n kenner geword het” – te alle koste vermy moet word om Namibië se N$15 miljard- veesektor te beskerm.


'PROFESSIONELE DISSIPLINE'

"Die strategie vir Namibië is een van absolute professionele dissipline." Tujendapi het die hoofveearts (CVO) in die landbouministerie se direktoraat veeartsenydienste (DVS), dr. Kenneth Shoombe, as die enigste “bevelvoerder” van die reaksie op die dreigende BKS-krisis aangewys.

“Wanneer hy opstaan en sê, almal gaan links, dan moet ons links gaan,” het Tujendapi benadruk, selfs al word ’n opdrag bevraagteken, die bedryf eers die DVS se leiding moet volg en later debatteer.

Tujendapi het beklemtoon dat hierdie dissipline die enigste manier is om die “ruggraat van die ekonomie” te beveilig.

"Al is landbou dalk nie die grootste bydraer tot die bruto binnelandse produk (BBP) nie, is die sosiale impak daarvan ongeëwenaar, met 70% van die Namibiese bevolking wat direk van die sektor afhanklik is."

Om die status “BKS-vry sonder inenting” te handhaaf, is nie bloot ’n burokratiese doelwit nie; dit is ’n voorvereiste om toegang tot hoëwaarde-markte soos die Europese Unie te kry." 

Tujendapi het gewaarsku dat sodra belegging in naspeurbaarheid en internasionale standaarde deur amateur-inmenging ondermyn word, die ekonomiese opbrengste vir die hele nasie sal verdwyn.


BRANDMUUR-STRATEGIE

Shoombe se tegniese oorsig het hierdie belange verder beklemtoon en ’n plan uiteengesit om die BKS-vrye sone in onafhanklike kompartemente op te breek.

Hierdie “brandmuur”-strategie beoog om te verseker dat ’n uitbreking in een gebied nie die hele land se uitvoervermoë verlam nie.

"Deur hierdie interne grense te skep, kan die DVS ’n infeksie tot ’n spesifieke streek isoleer terwyl die res van die land kan voortgaan om handel te dryf," het Schoombe gesê.


DVS BESOEK ORANJE

Intussen sal ’n DVS-beampte Dinsdag plase teen die Oranjerivier besoek om veeinspeksies uit te voer en bloedmonsters van vee neem.

Republikein is in besit van die DVS-veearts van Karasburg, dr. Arnold de Klerk, se amptelike brief, gedateer 10 Februarie 2026, aan kommunalse boere langs die Oranje, asook 'n brief van die kommunale boere aan die landbouministerie. Die boere het in die brief hul ontevredenheid uitgespreek dat daar nie genoeg tyd vir hulle gegun is nie.

Die president van die Namibië Landbou-unie (NLU), Thinus Pretorius. het Vrydag aan Republikein gesê “dit is nie nou tyd van verdeeldheid nie. Almal moet nou saamstaan en veg om bek-en-klou uit die land te hou”. 

Na ’n interne vergadering van die NLU-bestuurskomitee op 4 Februarie is verskeie belangrike besluite geneem om Namibië se aktiewe reaksie te versterk om die land teen só ’n ramp soos in Suid-Afrika te beskerm. 

Hierdie veranderinge is daarop gemik om kommunikasie te bevorder, samewerking oor sektore heen te versterk en te verseker dat die NLU-kantoor optimaal toegerus is om die uitdagings vorentoe te hanteer. 


ONDERSTEUNINGSFONDS GESTIG

’n Ondersteuningsfonds, die FMD Support Fund, wat ’n onafhanklike entiteit is, verteenwoordig ’n gesamentlike poging tussen die vier Namibiese landbou-unies – die Namibië Nasionale Boere-unie (NNFU), die Namibiese Ontluikende Kommersiële Boerevereniging (Necfu) en die Boere-unie vir Voorheen Benadeelde Kommersiële Boere (PDCFU) en die NLU – tesame met die DVS, LLPBN en belangrike private rolspelers, volgens die jongste weeklikse nuusbrief van die NLU. 

Pretorius het gesê die fonds funksioneer onder die bekwame bestuur van dr. Ingrid Henckert-Weissnar van Namibia Health Risk Solutions wat ’n reuse-rol tydens die Covid-19-pandemie gespeel het.

Die komitee het beklemtoon dat BKS ’n nasionale kwessie is wat verskeie bedrywe raak, insluitend vark-, pluimvee-, suiwel- en ander kommoditeite. 

“Om dié rede is dit noodsaaklik dat die reaksie onder die breër landbousektor gekoördineer word eerder as om dit as ’n geïsoleerde uitdaging te hanteer,” lui die nuusbrief.

Die Landbouprodusente-organisasie (LPO) se voorsitter, Jako van Wyk, en Dawie Kok sal voortgaan om as sameroepers van die BKS-operasies te dien en saam met Henckert-Weissnar die leiding neem met die koördinering van die operasies en die voortgesette reaksie. Rina Hough sal Henckert-Weissnar met BKS-verwante verantwoordelikhede bystaan. Leigh-Ann Nehoya, die NLU se senior kommoditeitsanalis, sal saam met bykomende aangestelde personeel verantwoordelik wees vir alle kommoditeite.

“Dit is belangrik om te beklemtoon dat die NLU nie in ’n posisie is om produsente te voorsien van opdragte oor die vermindering of verkoop van vee nie. 

“Alle boere behoort hul eie risikoprofiel te bepaal in oorleg met hul veearts, finansiële bestuurder en volgens die spesifieke omstandighede kommoditeite,” benadruk die NLU. – Bykomende bron: NLU

jacques@nmh-hub.com.na

– francoise@nmh.com.na