Meatco dagvaar Liebenberg vir N$6,1 miljoen
Patrick Liebenberg FOTO ARGIEF

Meatco dagvaar Liebenberg vir N$6,1 miljoen

Hoofredaksie – Meatco het ’n hofgeding teen sy geskorste uitvoerende beampte vir veeproduksie en -verkryging, Patrick Liebenberg, aanhangig gemaak.

Hulle wil meer as N$6,1 miljoen terugkry wat hy na bewering by dié staatsbeheerde vleisverwerker wanbestee het.

Hofstukke wat by die hoërhof in Windhoek ingedien is, beweer dat Liebenberg tussen 2024 en 2025 altesaam N$6 161 657 “onregmatig, onwettig en bedrieglik” by Meatco wanbestee het.

Die maatskappy voer aan dat Liebenberg die fidusiêre pligte teenoor sy werkgewer verbreek het deur nie Meatco se geld en bates te beskerm nie.

Volgens die dagvaarding wat op 6 Maart 2026 uitgereik is, eis Meatco dat Liebenberg die volle bedrag terugbetaal, plus rente teen 20% per jaar en regskoste.

Die siviele eis kom te midde van ’n breër interne dissiplinêre proses waarin die voormalige waarnemende hoof 26 aanklagte in die gesig staar, insluitend bedrog, vervalsing en sabotasie wat verband hou met vermiste beeste en beweerde finansiële onreëlmatighede by die maatskappy.

Network Media Hub (NMH) verstaan dat die maatskappy doelbewus die hofroete gekies het om sy verliese te beperk – terwyl dit terselfdertyd ’n dissiplinêre verhoor volg.

Liebenberg het tien dae ná betekening van die dagvaarding om aan te dui of hy van voorneme is om die siviele eis te verdedig.

Meatco word deur prokureur Norman Tjombe verteenwoordig.


N$1,9 M. GLO HERLEI

Interne dissiplinêre dokumente beweer dat Liebenberg op 28 Februarie 2025 sowat N$1,9 miljoen wanbestee het wat geoormerk was om beesprodusente tydens permitdae te betaal, is vroeër vandeesweek in Namibiese media berig.

Volgens die dokument wat deur Meatco se huidige waarnemende uitvoerende hoof, Albertus Aochamub, uitgereik is, het Liebenberg na bewering versuim om die geld aan Meatco terug te besorg en het hy dit valslik aangeteken dat dit aan ’n kollega, die tegniese adviseur vir vee, Ellis Mbuende, oorhandig is.

Die aanklagte beskuldig hom verder daarvan dat hy rekords van veetransaksies vervals en belangrik inligting vir bestuur verdoesel het.


LINDEN BEEF-SKANDAAL

Die dissiplinêre saak hou ook verband met die verdwyning van sowat 900 beeste wat aan Meatco behoort wat onder die sorg van ’n gekontrakteerde voerkraaloperateur, Linden Beef CC, geplaas is.

Meatco beweer dat Liebenberg aan junior werknemers opdrag gegee het om 517 beeste tussen voerkrale tydens ’n oudit-voorraadopname in Januarie 2025 te verskuif, na bewering om ouditeure te mislei oor die werklike aantal diere onder die maatskappy se beheer.

Die beweerde oordrag het plaasgevind van die Annasruhe-voerkraal na die Linden Beef-voerkraal, tydens ’n voortgesette oudit van biologiese bates, wat die dissiplinêre dokument as ekonomiese sabotasie beskryf.

Ondersoekers beskuldig Liebenberg verder daarvan dat hy ondersoeke belemmer en werknemers opdrag gegee het om sekere inligting oor die vermiste vee nie aan die polisie bekend te maak nie.


VOERKRAALKONTRAK

Die kern van die omstredenheid is ’n voer- en afrondingskontrak tussen Meatco en Linden Beef CC, ’n maatskappy wat aan die sakeman David van der Linden behoort.

Die voerkraalreëling het Linden Beef toegelaat om beeste by kommunale boere suid van die veterinêre kordonheining, bekend as die Rooilyn, te gaan haal en hulle voor slagting te voer.

Van der Linden self het verlede jaar opslae gemaak nadat hy in hegtenis geneem is in verband met ’n daggaplantasie ter waarde van N$52 miljoen wat op die plaas Eendrag tussen Hochfeld en Osire in die Otjozondjupastreek ontdek is.

Die kontrak en die hantering van vee onder die reëling het onder die vergrootglas gekom nadat daar nie vir honderde beeste tydens voorraadkontroles verantwoording gedoen kon word nie.

– republikein@republikein.com.na