Agribusdev spook steeds
Nuwe vrae gaan in die parlement gestel word oor die ontbinding van die beleërde staatsbeheerde Agribusdev wat reeds vir jare sloer.
Kommer word toenemend geopper oor die stadige integrasie van personeel, voortgesette betalings van salarisse asook die uitvoering van ’n konsultasiekontrak van N$5 miljoen.
Parlementslid Michael Mulunga van die Popular Democratic Movement (PDM) stel vandag in die Nasionale Vergadering (NV) vrae aan die minister van landbou, visserye, water en grondhervorming, Inge Zaamwani, om duidelikheid te kry oor die status van voormalige personeel van Agribusdev en die ontbindingsproses van die entiteit wat tot stilstand geruk het.
Die kabinet het in 2021 besluit om Agribusdev weens ’n reuseskuldlas te ontbind. Sy funksies en finansiële verpligtinge, wat die salarisse van personeel insluit, is aan die ministerie oorgedra. Byna vyf jaar later is die proses steeds nie voltooi nie.
Die kern van die ondersoek is ’n konsultasiekontrak van sowat N$5 miljoen wat aan Cha-Cha-Cha Management Consultancy toegeken is om die ontbinding te finaliseer en die herintegrasie van personeel te fasiliteer.
Die kontrak, wat aanvanklik in Junie 2025 verstryk het en weer tot September 2025 verleng is, is maande ná die hersiene sperdatum steeds nie voltooi nie.
Mulunga sê die situasie het werknemers in limbo gelaat, met sommige wat vir diens aanmeld terwyl ander tuis bly. Dit ten spyte van die feit dat hulle steeds salarisse ontvang.
“Watter stappe het die ministerie geneem om die betrokke werknemers formele duidelikheid te gee oor hul posisie binne die ministerie? Wat is die regsgrondslag vir hierdie voortgesette vergoeding in die afwesigheid van formele dienskontrakte of integrasie?” wil Mulunga weet.
Hy eis ook die openbaarmaking van die totale maandelikse salarisrekening en of boetes opgelê is vir die konsultant se versuim om sy verpligtinge na te kom.
Die uitgerekte proses kom teen die agtergrond van hernieude politieke kritiek op Agribusdev se nalatenskap. Tydens ’n besoek aan groenskemaprojekte in Kavango-Oos verlede jaar, het president Netumbo Nandi-Ndaitwah die entiteit vir die ineenstorting van verskeie landbou-inisiatiewe blameer. Volgens die president het prestasie skerp afgeneem nadat dit bedrywighede oorgeneem het.
“Die goeie ding is dat die dier genaamd Agribusdev nou uit die pad is. Toe Agribusdev ingebring is, het alles ineengestort,” het sy toe gesê.
Agribusdev is in 2011 gestig om Namibië se groenskemas te bestuur en voedselproduksie te bevorder. Die entiteit is deur finansiële wanbestuur, toenemende skuld en operasionele mislukkings geteister. Teen 2020 het dit gesukkel om salarisse en verskaffers te betaal, wat die regering genoop het om die entiteit die volgende jaar te ontbind.
Ten spyte van Agribusdev se omstrede verlede, hou die regering vol dat groenskemas stadig onder nuwe maatreëls herstel, hoewel administratiewe en personeeluitdagings steeds ’n skaduwee oor die oorgang werp.
Mulunga dring nou aan op ’n duidelike tydlyn vir die finalisering van die ontbindingsproses en die formele integrasie van betrokke personeel wat jare later steeds sloer. – elizabeth@nmh-hub.com.na
