Werkers by Meatco het hul geskil met die bestuur verder verskerp en gister weer in die hoofstad plakkate geswaai.
Tydens ’n betoging is ’n sterk bewoorde klagskrif voorgelê wat finansiële wanbestuur, arbeidsvergrype en belangebotsings by die maatskappy in staatsbesit beweer.
Die betoging, gelei deur die Namibiese Voedsel- en Verwante Werkersunie (Nafau), spruit uit vertraagde salarisonderhandelinge vir die 2026-boekjaar. Werkers beweer dat, ondanks die maatskappy wat vir die eerste keer sedert sy ontstaan ’n wins van N$100 miljoen getoon het, die bestuur versuim het om ’n redelike loonverhoging aan te bied.
Tydens die protesoptog het vakbondverteenwoordiger Joseph Kambala die klagskrif voorgelees, wat ’n reeks bewerings teen senior leiersk
ap uiteensit. Onder die kwessies het werkers ’n gewysigde reisbeleid bevraagteken en beweer dat uitvoerende beamptes steeds besigheidsklas vlieg – selfs op streekroetes – ten spyte van oproepe tot kostebesnoeiing.
Hulle het ook ’n onafhanklike ondersoek geëis na ’n beweerde handelaarsreëling tussen Meatco en United Brokerage South Africa (UBSA CC), wat na bewering ’n 5%-afslag ontvang wat nie aan ander kliënte toegestaan word nie, wat kommer wek oor moontlike belangebotsings waarby senior uitvoerende beamptes betrokke kan wees. Die klagskrif verwys verder na ongeouditeerde finansiële state vir 2025-’26, wat na bewering verliese in die eerste kwartaal van 2026 weerspieël, ondanks hoë produksievolumes, wat werkers laat vra hoe die maatskappy onder sulke omstandighede verliese kon ly.
KLA OOR LEIERSKAP
Ernstige bekommernisse is ook oor leierskap en bestuur geopper, insluitend die aanstelling van die hoof finansiële beampte en die waarnemende uitvoerende beampte vir menslike kapitaal. Werkers voer aan dat hierdie aanstellings ondersoek regverdig, met eise dat albei amptenare bedank, asook dat die hele direksie ontslaan en vervang word.
Arbeidsverwante griewe het sterk na vore gekom, met bewerings dat sommige tydelike werknemers sonder kontrakte werk en kontant betaal word, in stryd met Namibië se arbeidswette. Werkers het ook die onmiddellike implementering van produksiebonusse tydens spitstye geëis.
Beweerde ondoeltreffendhede in die bedryf is ook benadruk, insluitend vertragings in produkversending en kommer oor prysstrategieë. Versoeke is aan die regering gerig om in te gryp in bedrywighede in die Noordelike Kommunale Gebied, veral rakende tot die Katima Mulilo-abattoir.
Die klagskrif eis verder aanspreeklikheid oor die 400 beeste wat na bewering vermis word en vra vir die skorsing van ’n tegniese bestuurder wat van voortgesette wangedrag beskuldig word.
Die werkers eis beter lone, deursigtigheid, aanspreeklikheid en permanente indiensneming vir tydelike werkers en waarsku dat die versuim om die geskil op te los tot ’n onbepaalde staking ná 30 April kan lei.
In reaksie op die klagskrif het die waarnemende uitvoerende beampte vir menslike kapitaal, Erastus Shanghala, die ontvangs erken en gesê die maatskappy sal ’n antwoord verskaf.
Network Media Hub (NMH) het gistermiddag probeer om kommentaar van die waarnemende uitvoerende hoof, Albertus Auchamub te verky, maar sy selfoon het onbeantwoord gebly.
– phillipus@nmh-hub.com.na